OUDTSHOORN NUUS - Jonathan Wicomb, adjunkhoof van Sacred Heart Primêr, is deur Samca (South African Majorette and Cheerleaders Association) gevra om tydens die 2018 Wêreld-trompoppiekampioenskap, bekend as die World Games, as aankondiger op te tree.
Die kampioenskap vind van 20 tot 22 September by Grand West in Kaapstad plaas.
"Ek beskou dit as 'n groot eer en 'n geleentheid wat nie sommer maklik weer sal gebeur nie," sê Wicomb.
Hy is die afgelope vyftien jaar reeds aankondiger by plaaslike trompoppiekompetisies en was vroeër vanjaar ook een van die aankondigers by die 2018 nasionale trompoppie kampioenskap op Oudtshoorn wat deur die SWD Majorette and Cheerleading Association aangebied is.
Volgens Wicomb sal spanne van regoor die wêreld in Kaapstad in aksie wees terwyl drie skole van Oudtshoorn, Sacred Heart Primêr, Van Reede Primêr en Hoërskool Oudtshoorn ook by die geleentheid sal optree.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'