Hendricus Botha is die Suid-Afrikaanse 2.1-klas-kampioen terwyl die jong Burger van die Westhuizen die land se voorste renjaer is in die 1660-klas.
Burger van der Westhuizen is die World of Motorsport ZA (WOMZA) se Suid-Afrikaanse kampioen. Dié byeenkoms is verlede Saterdag aan-gebied by Kleinplasie Raceway in Worcester.
Botha het sy titel verlede Saterdag ingepalm by die Dirt Oval for South Africa (DO4SA) se Suid-Afrikaanse kampioenskappe, aangebied by die Tygerberg Raceway buite Kraaifontein.
Die twee koelkoppe het gewys dat die land se voorste jaers, moeilike omstandighede en ontploffende onderdele hulle nie eens op 'n groot verhoog soos dié van stryk kan bring nie.
Die 18-jarige Van der Westhuizen moes sy handboeke Saterdag vir 'n wyle opsy skuif (hy is 'n leerder aan Langenhoven Gimnasium en skryf tans sy matriek-eindeksamen). Reeds voor die wegspring van sy eerste ren moes hy toekyk hoe sy petrolpomp uitbrand. Noodherstelwerk is inderhaas aangepak met stukke lap en kabelbinders wat die allerbelangrike onderdeel op sy plek moes hou.
Maar 'n goeie be-
stuurder, vertel Van der Westhuizen, is een wat kan dink. "Daar is 20 rondtes in die finaal en mens wen nie die ren om die eerste draai nie. Jy moet bereid wees om jou kans af te wag."
Van der Westhuizen het in 2012 'n vyfde plek by die SA's in Bloemfontein behaal. In 2013 kon hy, weens meganiese probleme, nie die ren voltooi nie. Hy spog vanjaar met 'n oorwinning by die Champ of Champs-byeenkoms. Die jong man se naam mag dalk net in die toekoms internasionaal bekend word. Hy vertrek eersdaags na Amerika waar hy sy droom om 'n Nascar-renjaer te word wil verwesenlik.
In Botha se geval is die Suid-Afrikaanse kampioenskappe oor drie bene gehou, waarvan die eerste twee in Port Elizabeth en Kimberley aangebied is. Met die aanbreek van die laaste been was hy tien punte agter die voorloper en moes hy allerhande truuks en jakkalsdraaie van opponente verduur.
Bewerings is onder meer gemaak dat sy enjin nie die standaard grootte is nie en dat hy allerhande ander onwettige middele inspan om 'n voorsprong te geniet. Bloed is toe getrek.
Die enjin is uitmekaar gehaal en elke deel noukeurig gemeet. Sulke aantygings getuig in ieder geval van vrees in die opposisie se gemoed.
Botha het toe maar gemaak soos manne wat van kampioen-stoffasie aanmekaar gesit is maak. Hy het elk van die drie finale
rondtes gewen om elke keer die maksimum aantal punte in te samel en sodoende die titel in te palm.
Hy is 'n ervare renjaer wat die sport reeds 14 jaar beoefen. Dit is maar die afgelope vier jaar dat hy 'n oog op die groot titels hou.
Hy het reeds Suid-Afrikaanse kleure ontvang en het vanjaar 'n oorwinning behaal by die Champ of Champs-byeenkoms asook 'n tweede plek by die Klein-Karoo Kampioenskappe.
En dit is beslis nie net die kar se krag wat 'n verskil maak nie. "Dis 'n kombinasie tussen die kar en die bestuurder," verduidelik Pierre Terblanche, die man wat Botha se enjin gebou het. En Botha dring ook daarop aan dat hy nie die prestasies sonder sy getroue span kon vermag nie.
Die prysuitdelingsfunksie vir die Oudtshoorn-, en George motorklubs sowel as SWD-toekennings word vanaand by die Honde-eenheid aangebied.

Burger van der Westhuizen in sy Volkswagen Polo waarmee hy die SA 1660-klas ingepalm het. Foto verskaf
Antonie Badenhorst, Hendrikus Botha en Pierre Terblanche by die Ford Fiesta waarin Botha as die SA 2.1-kampioen gekroon is.
ARTIKEL EN FOTO'S: JACQUES SWART, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein-Karoo nuus'