OUDTSHOORN NUUS - Jada Coetzee, Ninke Griffioen en Mia Hugget van die Fish Eagles-swemklub in Oudtshoorn het verlede week veelvuldige medaljes by die Eden-swemkampioenskappe verower wat by die NA Smit-swembad plaasgevind het. Alhoewel die kampioenskappe goed deur toeskouers bygewoon is, kon slegs diegene wat bewys van inenting teen Covid-19 toon, toegang by die hekke kry.
Volgens Lluwellyn Coetzee, president van Wes-Kaap Swem, het sowat 109 swemmers van Plettenbergbaai, Mosselbaai, Knysna, George en Beaufort-Wes deelgeneem.
"Ons is natuurlik baie tevrede met ons swemmers se algemene vertonings, maar bygesê is ons bietjie bekommerd oor die impak van die Omikron-variant en monitor ons die situasie voortdurend. Daar was ook probleme met die kwaliteit van die water en ons vertrou dat die munisipaliteit dit dringend sal aanspreek. Hierdie kan 'n negatiewe impak op plaaslike swem hê wat beteken dat swemgalas noodgedwonge na ander areas moet verskuif wat katastrofiese gevolge vir die dorp se reeds gebukkende ekonomie kan inhou," het Coetzee gesê.
Die interdistrikswembyeenkoms op 15 Januarie 2022 is die volgende gala by NA Smit-swembad wanneer die metro's van Buffalo City, Kaapstad, Gqeberha en Eden mekaar sal pak.
So het Coetzee, Griffioen en Hugget gevaar:
Jada Coetzee (Vier goue medaljes, twee silwermedaljes en drie brons)
Ninke Griffioen (Een silwer en twee brons)
Mia Hugget (Een goud en vier silwer).
Die res van die Fish Eagles-swemklub het almal hul tye verbeter.
Van links is Ninke Griffioen, Jada Coetzee en Mia Hugget.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'