Dit was die woorde van Lewellyn Coetzee, bestuurder strategiese dienste by die plaaslike munisipaliteit, tydens die bekendstelling van die dorp se sportfees in Junie.
Hierdie week het Coetzee se woorde ge-eggo en is dit duidelik dat die dorp nie alleen oor die infrastruktuur beskik nie, maar ook talent op deelnemende en administratiewe vlak. Dit is ook duidelik dat die ekonomiese impak van groot sportgeleenthede in die dorp nie onderskat kan word nie.
Die Wes-Kaapse minister van finansies, dr Ivan Meyer, lewer juis Maandagoggend `n praatjie oor die dorp se ekonomie, tydens `n sake-ontbyt. Meyer speel ook tans `n sentrale rol om `n fietsrybaan op die dorp te vestig.
Die Suid-Afrikaanse nasionale kunsvliegspan gaan die dorp as basis gebruik ter voorbereiding van hul deelname aan die wêreld kunsvliegkampioenskappe. Hierdie besluit is juis geneem op grond van die uitnemende fasiliteite en die wyse waarop dit deur die Oudtshoorn Vliegklub en hul voorsitter, dr. Johan Strasheim, bestuur word.
Die Bridge Cape Pioneer Trek, 'n bergfietsren met internasionale aansien, het Sondag ter plaatse in aanvang geneem, ryers het Maandagoggend met die eerste skof vanuit die middedorp weggespring en môre loop die ren ten einde met die eindstreep voor die Queen's Hotel in Baron van Reedestraat.
Die straat sal vir die dag gesluit wees vir verkeer. 'n Oudtshoorniet Matthys Beukes en sy spanmaat het die tweede skof ingepalm en was teen druktyd ook die algehele voorlopers.
'n Plaaslike paar, Kobus en Fienie Barnard, was ook in die eerste posisie in die gemengde pare-kategorie. Boonop word die ren ook deur Oudtshoorniete georganiseer. Bernard le Roux, Henco Rademeyer en Carel Heroldt is die span van Dryland Event Management wat aan die stuur van talle groot sportbyeenkomste staan.
Dié byeenkoms volg kort op die hakke van die GOK Pennypinchers Fietsren wat ryers van oor die land asook internasionale besoekers na die dorp gelok het.
Volgende Saterdag word die SWD Meesters Atletiekbyeenkoms by die De Jager-sportkompleks aangebied. Voorsitter, Toy Ungerer, 'n Oudtshoorniet en self 'n gerekende atleet, staan aan die stuur van 'n span wat jaarliks hierdie byeenkoms aanbied.
Atlete vanoor die land kom hul staal wys. Volgens Ungerer sal vanjaar se byeenkoms ook in samewerking met SWD-talentidentifisering aangebied word om die gaping tussen verlore skoletalent en die meesterskategorie te oorbrug. Die program begin reeds 07:00 Saterdagoggend, met die 10 000m.
Die De Jager Sportkompleks is ook die tuiste van die Eden / SWD Sportakademie wat `n sentrale rol speel in die ontwikkeling van jong sporttalent.
Die dorp is ook die tuiste van SWD-krieket, 'n unie wat in nasionale krieketkringe aansien geniet weens die uitnemende werk wat deur die unie se hoof uitvoerende beampte, Albertus Kennedy, en sy administrateurs en afrigters verrig word.
Die besigheidskamer se volgende netwerkaand, met die hoof uitvoerende beampte van Krieket Suid-Afrika, Haroon Lorgat as gaspreker, word op 23 Oktober by die unie se hoofkwartiere aangebied.
Die president van die SWD-rugbyunie, Hennie Baartman, is ook 'n Oudtshoorniet en 'n man wat hoog aangeslaan word in die wandelgange van Suid-Afrikaanse rugby.
Op skolevlak
Ook op skolevlak gedy talent en administratiewe vaardighede.
Die mees onlangse voorbeeld is die Klein-Karoo Vaardigheidskool se toutrekspan wat een van drie benoemdes is vir die toekenning as ontwikkelingspan van die jaar in die nasionale sporttoekennings.
Die wenner word op 30 Oktober, in Sandton Johannesburg aangewys.
Hierdie is maar enkele van die hoogtepunte wat moontlik gemaak word deur inwoners wat skouer aan die wiel sit.
 (3_635933919.jpg)
Die Oudtshoorniet, Waldo Lategan, in aksie vir die SWD-krieketspan. Foto: SWD Krieket
ARTIKEL: JACQUES SWART, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'