Daar moet ook toegesien word dat die fees groei en selfs `n groter rol speel om die dorp te vestig as `n voorkeur sportbestemming.
Dit was die woorde van Thabo Tutu, direkteur sport by die Wes-Kaap department van kultuursake en sport, tydens die openingsfunksie van die sportfees, verlede Donderdagaand in die Headlines Restaurant.
Die fees skop af op Donderdag 26 Junie en duur tot 5 Julie.
Fietsry, baldanse, sokker, karate, skaak, netbal en aksiekrieket is van die sportkodes wat in aksie sal wees.
Ian Laubscher, sportadministrateur van die plaaslike munisipaliteit, het gesê dat nagenoeg 3 000 atlete in die dorp verwag word.
"Navorsing wys dat die gemiddelde sporttoeris sowat R550 per dag spandeer op voedsel en verblyf. As mens in ag neem dat die verwagte aantal atlete vergesel gaan word deur administrateurs, afrigters, spanbestuurders en ondersteuners, kan die impak van die fees op die dorp se ekonomie nie onderskat word nie."
Die direkteur strategiese dienste van die plaaslike munisipaliteit, Lewellyn Coetzee, het sy stem by Laubscher gevoeg. "Die fees speel `n integrale rol in die munisipaliteit se visie om Oudtshoorn te vestig as `n dorp waar inwoners kan werk, leer, speel en vooruitgang geniet."
Coetzee het gesê dat groot sportgebeurtenisse elke maand van die jaar in die dorp aangebied kan word.
Die sportprogram sluit in:
- 26 en 27 Junie - Wes- en Oos-Kaap atletiekkampioenskappe by die De Jager-sportkompleks
- 27 tot 29 Junie - interprovinsiale skaakkampioenskappe by Laerskool Oudtshoorn-Noord
- 28 Junie - Wes-Kaap klubontwikkelingsnetbaltoernooi by Bridgton-sportterrein
- 28 Junie - Suid-Afrikaanse nasionale karatekampioenskappe by De Jager-sportkompleks
- 28 Junie - Span Uitdaag-gholfkompetisie by Oudtshoorn-gholfklub
- 28 en 29 Junie - Wes-Kaapse padfietskampioenskappe by Highgate
- 30 Junie tot 3 Julie - SA interprovinsiale kampioenskappe by Volmoed en Bridgton
- 28 en 29 Junie - Interdistrikte netbal ontwikkelingstoernooi
- 28 Junie - Safa Eden top-8 sokkertoernooi in Dysselsdorp
- 27 tot 29 Junie - Aksiekrieket ontwikkelingstoernooi
- 4 en 5 Julie - Wes-Kaapse Fedansa-baldanskampioenskappe by De Jager-sportkompleks.
Michael Wagenaar by Gerhard du Toit en George Payne van Standard Bank en Thabo Tutu van die Wes-Kaap departement kultuursake en sport.
Michael Wagenaar van Oudtshoorn-munisipaliteit ontvang die borgskap van Standard Bank se Gerhard du Toit. Foto's: Jacques Swart
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein-Karoo nuus'