SPORTNUUS - Die Oudtshoorn Sport Inisiatief (OSI) word Woensdag 7 Mei amptelik om 18:00 by Kleinplaas-vakansieoord gestig. Volgens een van die stigterslede, Dave van der Walt, is die doel van die organisasie om sport en sporttoerisme in die dorp te bevorder en te fasiliteer.
"Ons wil graag beklemtoon dat hierdie glad nie 'n poging is om enige funksie van sportklubs of sportrade oor te neem nie – die OSI wil bloot net dien as 'n ondersteunende liggaam om sportliggame te help om fasiliteite op te gradeer en om hoë profiel-sportbyeenkomste na Oudtshoorn te bring en sodoende ekonomiese inspuiting te stimuleer.
Daar word gepoog om nou saam te werk met die munisipaliteit, die Oudtshoorn-sportraad, staatsinstellings soos die SANW, besighede, skole, sportklubs, toerisme-besienswaardighede en enige rolspeler wat die doelwitte en visie van die OSI onderskryf. Ons nooi alle belangstellendes uit om dit by te woon," het Van der Walt gesê.
Vir enige navrae kontak Dave van der Walt by 082 773 4901 of davesusvdw@gmail.com.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’