OUDTSHOORN NUUS - Vyf fietsryers van Oudtshoorn het Sondag as oorwinnaars in hul onderskeie afdelings by die jaarlikse Timbercity-fietstoer weggestap.
Die fietstoer is in gietende reën beslis met die deelnemers wat omstreeks 07:30 Sondagoggend in Baron van Reedestraat tussen Hlangana Lodge en Kleinplaas-vakansieoord weggespring het.
Sowat 300 fietsryers het vanjaar vir die verskillende afdelings ingeskryf.
Hierdie fietstoer, wat vanjaar vir die negende keer aangebied word, dien ook as 'n senior padwedren vir die Cape Town Cycle Tour (voormalige Cape Argus-toer). Anriette Schoeman, fietsryer van Port Elizabeth, het sedert dié toer se bestaan nog elke jaar met die louere in die Queen of the mountain-afdeling weggestap.
Corné Bence, een van die organiseerders, het sy waardering teenoor die minister van kultuursake en sport, Anroux Marais, uitgespreek wat tyd in haar druk skedule afgeknyp het om die fietstoer by te woon.
Hy het ook die hoofborg, Timbercity bedank vir hul voortgesette bydrae.
Eerste plekke verower deur Oudthoorniete:
- Suveena Aries - (meisies o.17-afdeling)
- Buyenta Goliath - (o.15-afdeling)
- Errol Pretorius - (60+ ouderdomsafdeling)
- Benino Hans - (junior mansafdeling)
- Charlissa Schultz (junior damesafdeling).
Buyenta Goliath het eerste oor die wenstreep in die o.15-afdeling gery.
Suveena Aries het die eerste plek in die meisies o.17-afdeling losgery.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'