OUDTSHOORN NUUS - Oudtshoorn-munisipaliteit se mandaat om Oudtshoorn as 'n sportdestinasie binne die Eden-distrik te bemark is besig om vrugte af te werp. Dit volgens Aurelia Oliphant, woordvoerder van die munisipaliteit na afloop van 'n vergadering verlede week.
Die burgemeester, Colan Sylvester, het verlede Vrydag 'n vergadering met skole en sportpresteerders van die dorp gehad. Tydens hierdie vergadering het hy die munisipaliteit se onderneming om saam met sportfederasies te werk, bevestig.
Volgens hom sal die munisipaliteit sportfederasies finansieel ondersteun en word daar ook begroot vir atlete wat nasionale-, provinsiale- of streekspanne verteenwoordig.
"Die atlete wat geïdentifiseer word, is kinders van Oudtshoorn en wat ook in Oudtshoorn skool gaan. Vir die boekjaar 2017/2018 het Oudtshoorn-munisipaliteit ongeveer R528 383 spandeer aan finansiële ondersteuning vir 174 atlete van die dorp."
Die donasies is gegee aan:
Een tennisspeler vir die Senior Wêreldkampioenskappe,
- 10 pluimbal-spelers wat aan die Suid-Afrikaanse Veterane toernooi deelneem,
- 55 skaakspelers wat aan die kampioenskappe in Bloemfontein gaan deelneem het,
- 15 atlete wat aan die Oesterfees-marathon, deelgeneem het,
- 13 rugbyspelers vir deelname aan die Nasionale-toernooi in Sasolburg,
Vyf skopboksers van Oudtshoorn wat aan die skopbokskampioen-skappe in Turkye deelgeneem het, R30 000 is aan die SA padkampioenskappe toegeken, R30 000 is aan die trompoppiekam-pioenskappe wat in Junie plaasgevind het toegeken, 21 krieketspelers wat aan die Nasionale-krieketweek, 15 baldansers van Oudtshoorn wat in Desember aan die SA kampioenskappe deelneem, R100 000 is ook aan die SuperSport Rugby toegeken.
Sporttoerisme:
Volgens Sylvster is sporttoerisme vir die dorp van groot waarde en sal die munisipaliteit daaraan werk om nasionale-, provinsiale- en selfs internasionale toernooie na Oudtshoorn te bring.
"Oudtshoorn is vir die SuperSport-geleentheid gekies omdat die fasiliteite van die bestes is. Daar is 'n moontlikheid dat Oudtshoorn genader sal word om 'n Pro-40 rugbywedstryd aan die einde van jaar aan te bied. Waarde van groot toernooie soos fietsry en trompoppies word soms nie na waarde geag nie. Met die SA padkampioenskappe was alle akkommodasie in Oudtshoorn volbespreek. As 3 000 persone in Oudtshoorn inkom is daar 'n ekonomiese sirkulasie van geld wat binne die dorp geskep word. Dit het 'n ekonomiese impak op die dorp; of dit by winkels, gastehuise of restaurante is," het Sylvester gesê.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'