OUDTSHOORN NUUS - Oudtshoorn het drie Suid-Afrikaanse kampioene opgelewer met die afgelope SA pad- en tydtoetskampioenskappe op Oudtshoorn.
Die kampioenskappe is deur die Lotto gefinansier en het van 6 tot 11 Februarie geduur. Ongeveer 900 fietsryers van oor die land het deelgeneem.
In die Para C2-manskategorie padren het Phillo Verlaat goud losgery en is gekroon as SA kampioen.
Hy het ook 'n tweede plek in die tydtoetse behaal. Fienie Barnard (veterane 40-44) en Errol Pretorius (veterane 60-64) is in hul onderskeie kategorieë aangewys as SA kampioene in die tydtoetse.
Die elite SA kampioene is Daryl Impey en Carla Oberholzer.
Benino Hans (tweede: o.17-padren) en Charlissa Schultz (derde: o.17-padren), het ook vir Oudtshoorn podiumposisies losgetrap. Hans het ook 'n negentiende plek behaal in die tydtoetse.
Ander Oudtshoorniete wat die bestes van SA se bestes opdraande gegee het, is:
Chandré Schultz (sesde: o.15-padren), Beyante Goliath (agtste: o.13-padren), Louis Visser (agtste: o.23-tydtoets), Caitlin Hendricks (negende: o.13-padren), Andrea Brandt (negende: o.15-tydtoets), Kobus Barnard (elfde: veterane 40-44-tydtoets), Willem Serfontein (veertiende: veterane 45-49-tydtoets), Breyton Hendricks (vyftiende: o.17-padren), Reece Wheeler (vyftiende: o.15-padren) en Marenene Vusi (twintigste: veterane 35-39-padren).
Corné Bence, voorsitter van Wes-Kaap-fietsry, het sy tevredenheid uitgespreek na afloop van die kampioenskappe.
"Ons het baie goeie terugvoer van ryers en Fietsry Suid- Afrika ontvang. Oudtshoorn en sy inwoners het hulle beste voet voorgesit.
Daryl Impey ry oor die eindstreep om as SA se nuwe elite padfietsrykampioen aangewys te word. Foto's Christo Vermaak
"Baie dankie aan die Oudtshoorniete vir jul geduld met die sluiting van die paaie.
"Dit was ongerieflik, maar die ryers het dit waardeer en dit het bygedra tot die sukses van die kampioenskappe."
ARTIKEL & FOTO'S: CHRISTO VERMAAK, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'