OUDTSHOORN NUUS - Die jaarlikse KUSA-kampioenskaps-hondeskou het die afgelope naweek in Oudtshoorn plaasgevind en het vanjaar 221 inskrywings gelok, met honde en hanteerders wat van regoor Suid-Afrika deelgeneem het.
Die skou, wat as een van die hoogtepunte op die hondeskoukalender beskou word, het weereens 'n sterk veld van mededingers in verskeie rasse en kategorieë saamgebring.
'n Groot hoogtepunt van die naweek was die deelname van die internasionale beoordelaar Guido Schäfer uit Duitsland, wat Suid-Afrika vir die eerste keer besoek het om 'n skou te beoordeel. Sy indrukwekkende loopbaan strek oor byna twee dekades en sluit beoordeling by internasionale skoue in Europa, Australië en Japan in. Sedert 2012 dien hy as president van die Duitse-klub vir Nordiese-rasse en is in 2021 verkies tot die raadskomitee van die Duitse-hondeklub vir beoordelaarsopleiding.
Schäfer het die skoukomitee bedank vir die uitnodiging en gesê hy was beïndruk met die gehalte van honde wat in Suid-Afrika geteel word. Volgens hom verskil die plaaslike skoustelsel effens van dié waaraan hy gewoond is, maar dit was 'n positiewe en aangename ervaring.
Lea Olivier met Cinders. Foto: Liezl van Niekerk
Plaaslike deelnemers het ook uitstekend presteer. Die 13-jarige Lea Olivier van Oudtshoorn, het die titel, Beste Junior Hanteerder, verower en was een van die uitblinkers van die dag.
Nog 'n plaaslike deelnemer, Linda Harker, het met haar miniatuur steekbaard-worshond, Harriet, deelgeneem. Harriet het die toekennings vir beste in ras en beste junior ontvang.
Elfie, die Ierse-wolfhond van Camilla Potgieter van Oudtshoorn, was ook onder die honde wat aandag getrek het.
Twee wit Switserse-herdershonde van die plaaslike teler en skouorganiseerder Jeané Murray van George, Senna en Kimi, het ook sterk vertoon. Senna het eerste plek in die SA teelafdeling behaal en is ook aangewys as beste junior, terwyl Kimi twee eerste plekke in dieselfde afdeling verower het.
Kimi sal in Julie in Johannesburg deelneem aan die PET Expo Cluster 2026, waar sy teen van die land se tophonde sal meeding.
Die skou is deur Murray beskryf as 'n suksesvolle naweek wat nie net mededinging nie, maar ook die groeiende standaard van teel en hanteerwerk in Suid-Afrika beklemtoon het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’