OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn Sportinisiatief (OSI), gestig deur rolspelers in die privaat sektor, het 'n lotery van stapel gestuur om geld in te samel vir die opgradering van twee belangrike sportfasiliteite in die dorp.
Die OSI is in die lewe geroep nadat finansiële druk die Oudtshoorn-munisipaliteit se vermoë om sportinfrastruktuur te onderhou en uit te brei, beperk het. Dit het geleenthede vir sportbyeenkomste en die gepaardgaande ekonomiese voordele benadeel.
In reaksie hierop het belanghebbendes uit die privaat sektor besluit om groter verantwoordelikheid vir die instandhouding van die dorp se sportfasiliteite te neem.
Na voltooiing van die nodige administratiewe prosesse is die OSI nou gereed om kaartjies vir hierdie opwindende lotery te verkoop.
Die geld wat deur die lotery ingesamel word, sal gebruik word vir twee groot projekte: Die installering van 'n dak oor die pawiljoen by die NA Smit-swembad en die installering van elektroniese tydmeting by die De Jager-sportkompleks.
Die OSI doen 'n beroep op die gemeenskap om hierdie inisiatief te ondersteun deur kaartjies te koop en die woord te versprei.
Prys
Deelnemers staan 'n kans om 'n week lange vakansie vir vier mense, ter waarde van R70 000, insluitend verblyf, etes en aktiwiteite te wen. Hierdie prys is vir vier gelukkige individue wat die beste wat Oudtshoorn kan bied, sal ervaar. Die pakket sluit luukse verblyf, heerlike etes, en 'n verskeidenheid opwindende aktiwiteite in. Die vakansie begin op Saterdag 28 Junie en duur tot Saterdag 5 Julie 2025.
Skryf in
Kaartjie beloop R250 per persoon. Deelnemers het tot 30 April om hul kaatjies te koop.
Kaartjies kan gekoop word by Webtickets.
Vir meer inligting, kontak Dave van der Walt by 082 773 4901 of besoek https://oudtshoornsport.co.za/lotto/
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’