OUDTSHOORN NUUS - Renmotors gaan Saterdag weer stof maak en brul op die Oudtshoorn-ovaalbaan.
Plaaslike renjaers van Oudtshoorn en George gaan mekaar die stryd aansê in die JLM-somerkampioenskappe.
Terwyl agt van die renjaers verlede naweek aan die nasionale kampioenskappe in Kimberley deelgeneem het, het meeste van die manne sedert Julie 'n blaaskans gevat en hulle motors voorberei vir Saterdag se wedrenne.
In die 1660 klas het André Nel, Juan van Rensburg en André Fouche ingeskryf.
Die drie jaers sal mekaar behoorlik opkeil vir die eerste plek.
Die voorsitter van die Oudtshoorn-ovaalbaanrenklub, Dirk van der Westhuizen, het Dinsdag gesê: "Robbie Matthee en Sarel van den Heever het hard gewerk om hulle motors meer betroubaar te maak en kan vir 'n verrassing sorg.
"Tien renjaers het reeds in die ontwikkelings-klas ingeskryf. Die tweestryd tussen Herman Hanekom en Werner Heunis sal vir vuurwerk sorg.
"Die manne van George, Corneill Bosman, Johan en Neil Engelbrecht en Chucky Verwey, gaan beslis hulle bes probeer om Hanekom en Heunis se dominansie in dié klas te breek."
"Burger van der Westhuizen, Hendricus Botha, Alistair Simpson en Christopher Burisch was almal in Kimberley vir die Suid-Afrikaanse kampioenskappe en speel nog kat en muis met hulle inskrywings vir die wedren.
"Ek is egter seker dat die meeste van hulle hul opwagting by die wedren gaan maak."
In die Heavy Metal-klas word daar groot dinge van Leno Muller, wat heelwat veranderinge aan sy BMW/Nissan aangebring het, verwag.
Hy kom te staan teen die ervare André Keller en Anton Pretorius. "Die twee kan dinge vir hom warm maak."
Van der Westhuizen sê: "Die manne sal moet lig loop vir Clive Meyer se Sierra/Lexus wat met elke wedren vinniger raak.
"Shaun Potgieter het 'n splinternuwe kleurskema op sy hitsmotor en sal beslis baie versigtig wees om nie die pragtige Sirocco te beskadig nie.
"Dit sal die geleentheid gee vir Corné en Rietha Oosthuizen om hulle gesag op die wedren af te dwing."
Wedrenne begin om 15:00.
Toegangsgeld is R50 en R20. Van der Westhuizen kan by 072 854 8830 geskakel word vir meer inligting.
ARTIKEL: CHRISTO VERMAAK, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'