KARATENUUS - Vier karatekas van die Okinawa Goju Ryu-karateklub in Oudtshoorn het onlangs hul teenstanders laat les opsê by die Afrika Federasie Goju Ryu-karatetoernooi.
In die proses kwalifiseer hulle ook om volgende jaar in September in Oostenryk deel te neem aan die Wêreld Goju Ryu Federasie-kampioenskappe wat vyf dae sal duur.
Al vier karatekas, Hendrico van Stryp, Lo-Anne Oosthuizen, Jaco Saayman en Esmé van den Heever, het gekwalifiseer in die kumite-afdeling met Oosthuizen wat vir beide kata en kumite gekwalifiseer het. Kata is die nabootsing van gevegkuns-bewegings en kumite is 'n ware kragmeting teen 'n opponent.
Volgens Oosthuizen, wat tans oor 'n 4de-dan swart belt beskik en ook die eienaar van Okinawa Goju Ryu-karateklub is, het sy sewe jaar laas deelgeneem aan hierdie karatetoernooi.
"Ek het in 2016 besluit om my karateklere op te hang, maar vanjaar was ek weer oorgehaal om 'n comeback te maak. Dit het uiteraard baie dissipline gekos, maar ek is verskriklik opgewonde omdat dit ook die eerste keer is dat ons karateklub so 'n groot span gaan verteenwoordig."
Volgens Oosthuizen bestaan die Okinawa Goju Ryu-karateklub wat tans in Langenhovenweg geleë is, sedert 2008. Sy sê dat haar sensei oorlede is toe sy nog 'n kind was en dit is ook een van die redes hoekom sy besluit het om eendag haar eie karateskool oop te maak om sodoende sy nalatenskap te laat voortleef. Tans beskik die karateskool, wat al Proteas opgelewer het, oor 31 karatekas.
Enige persoon en geslag is welkom om aan te sluit vanaf die ouderdom van vyf jaar en die oefentye is Dinsdae en Donderdae van 17:30 tot 18:30.
Skakel Oosthuizen by 079 421 5511 vir meer inligting.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’