Die nuwe klub, Sedgefield Primêr, is deur Jan Fourie (Suid-Kaap ontwikkelingsbeampte) en Stefanus Dogh (Sedgefield Primêr skoolhoof) amptelik geopen. Die nuwe saal beskik oor twee bane wat vir ontwikkeling- en ligawedstryde aangewend kan word.
Onderhandelings tussen Fourie en die plaaslike skole is deurentyd aan die gang om die jeug weer betrokke te kry by die sport. Liga- en provinsiale vlak ontwikkeling word ook vir die jeug deur Fourie aangebied en twee van Suid-Kaap se juniors het reeds hierdie jaar hul provinsie op toernooie verteenwoordig.
Fourie en Wessel en Tokkie Hartslief is deur die pluimballiggaam bedank vir die harde werk wat hulle ingesit het met die stigting van die klub. Pluimbal Suid-Afrika het die pale, nette en rakette voorsien.

Die nuwe bane is tydens die openingsaand met ‘n spanoefening deur die Suid-Kaap-span wat eersdaags die provinsie by die SA Plattelande Toernooi in Secunda gaan verteenwoordig, op die proef gestel terwyl van die nuwe ontwikkelingsspelers die spel in aksie kon beleef. Op die foto hou Jan Fourie en Stafen Dogh 'n raket vas saam met van die nuwe spelers.