OUDTSHOORN NUUS - Die SA Jagters Oudtshoorn-tak het op Saterdag 1 November sy jaarlikse 21 Black Jack-gongskietgeleentheid sowat 16 km buite Oudtshoorn op die Mosselbaai-pad, by Hein Schoeman se plaas, aangebied.
Volgens Rob Fisher, organiseerder van die geleentheid, was dit die tweede jaar dat die Oudtshoorn-tak, wat as 'n satelliettak van SA Jagters Tuinroete funksioneer, dié unieke Modified 21 Black Jack-gongskiet aanbied, saam met 'n .22 gongskiet vir liefhebbers van kleiner kalibers.
Ondanks uitdagende weersomstandighede en sterk wind, het die deelnemers volgehou, maar slegs vier van die 21 skuts kon al die gongs raakskiet.
Een van die skuts lê aan vir nog 'n skoot.
Die wenner van die dag was Mark Kallel met 42 punte, en hy was ook die enigste deelnemer wat die klein gong twee keer kon tref. Die ander drie skuts wat die uitdaging voltooi het, was Johan Fourie, Michael de Klerk en Philip Streicher, elk met 21 punte.
"Dit was 'n veilige en gesellige dag, afgesluit met 'n prysuitdelingseremonie en 'n braai," sê Fisher. "Ek wil graag aan almal betrokke, elke borg en die tien helpers baie dankie sê vir hul bydrae tot die sukses van die dag."
- Vir meer inligting oor toekomstige skietdae kontak Rob Fisher by 083 284 8462.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’