OUDTSHOORN - Die sportdepartement van die Oudtshoorn-munisipaliteit en die Oudtshoorn Christelike Jeugforum (OCJF) het Vrouedag met twee netbaltoernooie gevier.
Die Oudtshoorn-munisipaliteit het ‘n netbaldag op die Bridgton-sportterrein aangebied met spanne van die Infanterieskool, die Iconics van Dysselsdorp, die Dreamers en Atletico van Oudtshoorn.
Die Iconics van Dysselsdorp het Dreamers in die eindstryd met 8 - 6 geklop met die span van die Infanterieskool wat met die bronsmedaljes weggestap het.
Die OCJF het ‘n ontwikkelingsnetbaltoernooi aangebied met spanne van Rosebank, Polisie Hoogte, Black Joint en Kanaal wat vir groot vermaak gesorg het. Rosebank het die toernooi gewen toe hulle Polisie Hoogte in die eindstryd met 16 - 5 geklop het.
Lily Manuel, Lizelle van Hansen, Patrick Blaauw en Johnny Baartman het in toesprake vroue se waarde in die samelewing beklemtoon.
Senior vroue van Polisie Hoogte is ook op ‘n heerlike ete getrakteer terwyl al die deelnemers aan die netbaltoernooi met lekkernye bederf is.
Die dag is volgens Phillip Seroux, projekbestuurder van die OCJF, moontlik gemaak danksy Food Lovers Market, die KKNK, EDENfm, Oudtshoorn-munisipaliteit en die gemeenskapspolisiëringsforum se ondersteuning.
Van die vroue wat Vrouedag van die Oudtshoon Christelike Jeugforum bygewoon het, saam met Phillip Seroux (links) en Johnny Baartman.
Rosebank se wenspan saam met Phillip Seroux (links) en Johnny Baartman van die Oudtshoorn Christelike Jeugforum.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'