OUDTSHOORN NUUS - Die bekende en gewilde Meiringspoort 21,1 km en 12,5 km wedlope word weer hierdie jaar saam met die gewilde De Rust NG Kerk Feesbasaar aangebied.
Die wedrenne vind op Saterdag 14 Oktober plaas. Op Vrydag 13 Oktober vanaf 11:00 sal lek-ker tradisionele plattelandse eet- en drinkgoed reeds beskikbaar wees.
Atlete kan op die Vrydag van 11:00 tot 21:00 by die wegspringpunt (die kerkterrein) registreer. Die laaste inskrywings kan die Saterdagoggend tussen 04:30 en 05:30 gedoen word. Atlete moet 'n afskrif van hulle identiteitsdokument byderhand hê om hulle nommers af te haal.
Vir meer besonderhede oor die inskrywings-proses kan die nuusbrief op die webtuiste www.meiringspoort21.co.za gelees word. Atlete moet hulle eie registrasie afhaal.
Geen atleet sal toegelaat word om 'n ander persoon se registrasie te ontvang nie.
Pannekoek, jafels, basaarpoeding, skyfies, braaiburgers, tjops, worsrolle, sosaties, brekkieburgers (Saterdagoggend) en die Karoo-koffiewinkel met heerlike koeke en filterkoffie is weer alles deel van die basaar.
Die gewilde vleistafel met karoovleis sal Vrydag vanaf 16:00 oop wees en weer Saterdag vanaf 09:00. Vir die vleistafel is daar kaartfasiliteite, maar die ander tafels word op 'n kontantbasis bedryf.
Daar sal hierdie jaar vir die eerste keer 'n Absa OTM beskikbaar wees, maar neem sommer genoeg kontant van die huis af saam.
Die steakete word Vrydagaand reeds vanaf 17:00 bedien. Daar is ook pasta vir die atlete wat nie vleis wil eet die aand voor die wedloop nie.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'