OUDTSHOORN NUUS - Die gewilde Meiringspoort Challenge word op 22 Mei weer in De Rust aangebied.
Soos met talle ander gewilde sportgeleenthede moes die Meiringspoort Challenge wat verlede jaar Mei sou plaasvind, ook noodgedwonge weens die Covid-19-pandemie gekanselleer word.
Volgens een van die organiseerders is vanjaar se reëlings alles reeds in plek en is hulle vasberade dat die wedloop sal plaasvind soos beplan.
Atlete wat wil deelneem mag slegs aanlyn inskryf. Geen inskrywings sal op die dag van die resies aanvaar word nie.
Inskrywings: https://www.meiringspoortchallenge.co.za/
Die amptelike sluitingsdatum vir alle inskrywings is 17 Mei.
Daar sal 'n heerlike steakete Vrydagaand, 21 Mei, by die NG Kerk wees waartydens die atlete ook hul nommers kan afgehaal.
Die organiseerders nooi die publiek uit om die egte plattelandse gasvryheid en die asemrowendste roetes te kom ervaar. Volop akkommodasie is in en om De Rust beskikbaar.
Wegspringtye
Die wegspringtye vir die MTB 61,5 km is om 07:50 en die MTB 31 km vanaf 08:00. Die nuwe MTB 31 km (e-fietse) toevoeging sal vanaf 08:05 plaasvind. Die trial run (9,5 km) begin om 08:00.
Streng Covid-19-riglyne sal deurentyd gehandhaaf word.
Atlete tydens 2019 se Meiringspoort Challenge.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'