OUDTSHOORN NUUS - Die 14de jaarlikse Oudtshoorn-jeugfees het van 4 tot 7 Julie plaasgevind.
Die Jeugfietsrykampioenskappe het ryers vanoor Suid-Afrika gelok om deel te neem. Die Jeugfees het begin met 'n XCO-bergfietswedren, asook ovaalbaanresies op Donderdag. Vrydag was die kermesse by Aurial College en Saterdag het die pad- en spantydtoetswedrenne by Highgate plaasgevind.
Die inter-distrikte fietsrykompetisie het ook plaasgevind en het Eden met die louere weggestap.
Ricardo Mackenzie, die nuwe Wes-Kaapse minister van sport en kultuur, het Donderdag die Jeugfees amptelik geopen en ook aan die kermesse deelgeneem.
Mackenzie is self 'n kranige fietsryer en het ook saam met die kinders gery tydens die kermesse.
Sonja Schultz, sekretaresse, Eden en Wes-Kaap Fietsry noem aan Oudtshoorn Courant dat hulle die minister bedank dat hy tyd uit sy besige skedule geneem het om die fees by te woon.
Die kampioenskappe het deel gevorm van die sportfees wat jaarliks in Oudtshoorn aangebied word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’