OUDTSHOORN SPORTNUUS - Ten spyte van streng Covid-19-reëls het Oudtshoorn verlede Sondag die eerste laserrunbyeenkoms sedert inperking by die De Jager-sportkompleks aangebied.
Laserrun is 'n kombinasie van hardloop en laser-pistoolskiet wat bestaan uit drie of vier rondes, afhangend van die atleet se ouderdom.
Die afstand waarvan geskiet word en die afstand wat gehardloop word hang dus af van die ouderdom van die atleet. Dit wissel van 5 m tot 10 m by die skiet, en die hardloop bestaan uit afstande van 400 m tot 800 m per ronde.
Volgens Bart Saaiman, een van die organiseerders, was dit duidelik dat die atlete van George, Mosselbaai en Oudtshoorn die saamwees ondanks die nuwe veiligheidsmaatreëls, terdeë geniet het.
By dié byeenkoms was daar gesoute atlete sowel as nuwelinge wat aan hul eerste byeenkoms deelgeneem het.
Die volgende byeenkoms vind plaas op 1 November by die Van Riebeeck-stadion op Mosselbaai en alle belangstellendes is welkom om aan te tree. Geen ouderdomsbeperking is van toepassing en geen vorige ondervinding is nodig nie.
Johan Windt (oranje frokkie) wys die nuwe atlete die basiese werking en beginsels van die pistool.Foto's verskaf
Annalie Grabe van Mosselbaai fokus op die teiken.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'