OUDTSHOORN NUUS - Die Klein Karoo Voetslaanklub (KKVK) hou algemene jaarvergadering op Vrydag 23 Januarie om 19:00 by die Wesbank-tennisklub in Kerkstraat (tussen Parkweg en Buitekantstraat) in Oudtshoorn.
Huidige lede, sowel as belangstellendes wat meer oor die klub en sy aktiwiteite wil uitvind, word uitgenooi om die vergadering by te woon.
Ná afloop van die vergade-ring volg daar 'n gesellige bring-en-braai.
Deelnemers word versoek om hul eie vleis en eetgerei saam te bring, terwyl die klub vir die bykosse, braaivuur en roosters sal sorg. Die klub se eetgerei sal ook beskikbaar wees.
Alkoholiese drank is by die klub te koop en kan per krediet- of debietkaart betaal word.
Volgens Daniel Steyl, die voorsitter van die klub, bestaan KKVK reeds meer as 35 jaar en bied jaarliks 'n uiteenlopende program van stapaktiwiteite aan.
"Dit sluit dagstappe, naweekstappe en langer stappe van drie dae of meer in, met roetes wat in moeilikheidsgraad wissel om 'n wye spektrum van lede te akkommodeer. Vir mense wat dit geniet om tyd in die natuur deur te bring, onder die sterre te slaap, in helder waterpoele te swem en weg te breek van die gejaag en geraas van die moderne leefwyse, bied ons uitstekende geleenthede om dit alles te ervaar."
Volgens hom bevorder hierdie aktiwiteite nie net 'n liefde vir die natuur nie, maar dra ook by tot 'n gesonde en aktiewe leefstyl.
Meer inligting oor die Klein Karoo Voetslaanklub is beskikbaar op die klub se webwerf by kleinkaroovoetslaanklub.godaddysites.com.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’