OUDTSHOORN NUUS - Klein Karoo Saadproduksie (KKS) het Maandagoggend, 30 Maart, 'n tjek ter waarde van R30 000 aan Dave van der Walt en Wilma Pienaar, voorsitter van Oudtshoorn Sportinisiatief (OSI), vir verdere opgradering van die swembad se pawiljoendak oorhandig.
Dawid Malan, besturende direkteur van KKS, het die oorhandiging gedoen.
Volgens Malan is dit vir hulle 'n voorreg om betrokke te kan wees by sport in die dorp, veral om deur middel van kontant bydraes 'n wesenlike verskil te maak.
Volgens Van der Walt was die terugvoer van tweekampdeelnemers en besoekers baie positief oor die pawiljoendak wat nou skadu bied teen Oudtshoorn se uitermatige hitte.
"Die OSI is 'n niewinsgewende organisasie wat gestig is om die sporttoerisme-waarde van Oudtshoorn te behou en selfs te vergroot. Hierdie gemeenskapgroep werk nou saam met alle sportliggame asook die munisipaliteit om die sportfasiliteite te help onderhou en te bemark. Die geweldige ekonomiese inspuiting wat sporttoerisme Oudtshoorn bied kan nie geminag word nie.
"Om net as voorbeeld te dien, gebruik ek net tweekamp wat maar 'n klein sportsoort is. Verlede jaar se SA kampioenskappe is aan Eden-tweekamp toegeken. Dit het behels dat meer as 900 atlete en ondersteuners, ongeveer 3 000 uit 14 provinsies landwyd, Oudtshoorn vir ten minste vier dae besoek het. Teen die tariefwaarde soos deur SA Toerisme bepaal word, het Oudtshoorn se ekonomie met omtrent R10 miljoen gebaat. Daarom is dit belangrik om die sportfasiliteite in Oudtshoorn op standaard te hou. Die 2027 SA Tweekampkampioenskappe is dan ook weer deur SA Tweekamp aan Eden en Oudtshoorn toegeken!"
"Vir baie jare is Oudtshoorn een van die voorkeurplekke om swemgalas en tweekampbyeenkomste aan te bied. Ongelukkig het die uitbou en onderhoud nie tred gehou nie. 'n Paar jaar gelede is 'n power poging aangepak om 'n net oor te sit en het egter nie eens twee weke gehou nie. Dit het toe een van OSI se voorkeurprojekte geword om 'n ordentlike dak op die pawiljoen te sit. KKS het ingetree en 'n skenking van R30 000 gemaak om die projek te laat gebeur. Hierdie sal beslis tot voordeel van die hele gemeenskap wees, 'n nalatenskap vir baie nageslagte," sê Van der Walt.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’