KAROO NUUS - Die jaarlikse Outeniqua-marathon en -halfmarathon, met George-munisipaliteit as hoofborg, het onlangs in ideale weersomstandighede tussen George en Wildernis plaasgevind. 'n Rekord aantal atlete, ongeveer 1 000, het ingeskryf.
John April van Oudtshoorn het met die louere weggestap in die 42 km in 'n tyd van 2:32:28 - 'n deeglike voorsprong voor die res met Melikhaya Msizi van Knysna-marathonklub tweede oor die wenstreep in 'n tyd van 2:55:16 en Johan Stemmet derde in 3:02:52.
Die eerste vrou tuis was Candyce Hall (Carbineers AC) in 3:28:05 met Cecilia Nel (Nedbank SWD) tweede in 3:30:25 en Skysha Barette (Nedbank SWD) derde in 3:44:04.
Halfmarathon
Nedbank SWD het die eerste drie plekke ingepalm in die halfmarathon met Oudtshoorn se Francois Maquassa die eerste atleet oor die wenstreep in 'n tyd van 1:11:03. Bernardo Fredericks was tweede in 1:13:26 en Marianio Eesou op sy hakke in 1:13:43.
Ebeth Marais (32Gi SWD) was die vrouewenner in die 21 km met 'n tyd van 1:25:36, gevolg deur Annarie Donald (32Gi SWD) in die tweede plek met 'n tyd van 1:30:45 en Lindi Georgiou van Body Concept Road in die derde plek (1:31:15).
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’