OUDTSHOORN NUUS - Een van Oudtshoorn se geliefde figure in die plaaslike sportwêreld, Jafta 'Oom Jaffie' Julius (60) is Dinsdag na 'n kort siekbed oorlede.
Volgens sy seun Donovan Gelant, het sy pa in April vanjaar die tuig neergelê na 28 jaar ononderbroke diens as Bridgton-sportterrein (Die plate) se hoofbaanopsigter.
"Hy het so 'n passie gehad vir sy werk dat hy lank na sy aftrede in April vanjaar steeds bekommerd was oor die toestand van die veld en dit self natgemaak het, alhoewel dit nie meer van hom verwag is nie. Sy skielike siekbed en afsterwe is 'n groot skok vir ons, maar ons berus by wat die Meester besluit het. Dit was vir ons ook duidelik dat sy suster Hannah Julius se onlangse afsterwe 'n groot uitwerking op hom gehad het. Ons gaan hom verskriklik mis vir wat hy vir ons breë familie beteken het."
Volgens Gelant sal sy tannie, Hannah, die naweek ter ruste gelê word.
Begrafnisreëlings vir Oom Jaffie sal dan in alle waarskynlikheid volgende week plaasvind.
Oom Jaffie se inpak wat hy op die gemeenskap en sportliefhebbers gehad het was vandeesweek duidelik met honderde boodskappe van medelye op sosiale media.
Oudtshoorn se voormalige burgemeester, Colan Sylvester, het geskryf dat Bridgton-rugby nooit weer dieselfde sal wees nie.
"My innige meegevoel aan die gesin en breë familie van Jaffie met sy heengaan. Ons sportveld was sy trots. Nêrens is sy plig versuim nie.
"Altyd die ekstra myl geloop om die veld en paviljoen en geboue in puik kondisie te hou. Menigte het ons eerste rugbyoefening en wedstryd onder sy wakende oog begin. Sy plek op die veld sal leeg wees, ons harte sal altyd vol wees van sy deel in ons sportloopbane en lewe. Rus in vrede."
Nog 'n inwoner het getuig dat Oom Jaffie se reguit manier van praat oor aspekte waarmee hy nie gelukkig was nie, iets is wat hy gerespekteer het.
"Almal wat hom geken het, het presies geweet waar jy met hom gestaan het. Hy sou nooit 'n lap om 'n gesonde vinger draai nie."
"Veral wat die instandhouding en prosedures van "Die plate" betref, was hy uiters streng. Dis ook 'n testament van die puik kondisie waarin hy die sportterrein jaar na jaar in stand gehou het. Besoekende sportspanne wat hier kom speel het, het altyd met oop monde na ons grasgroen velde in bewondering gekyk. Hy was 'n ware ambassadeur vir sport oor die algemeen gewees. Ons salute jou! Vir ons sal dit altyd Oom Jaffie se plate wees. Altyd."
In sy huldeblyk het die president van SWD-krieket, Rudy Claassen, gesê dat die Bridgton-sportterrein nooit weer dieselfde sonder Julius sal wees nie.
"Die Bridgton-sportterrein is al jare lank 'n gasheerveld vir Krieket Suid-Afrika en SWD-kriekettoernooie en byeenkomste. Hy sal onthou word vir sy goeie humor, vriendelike gesindheid met administrateurs, afrigters en spelers, maar veral vir die trots in sy werk."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'