Update
OUDTSHOORN NUUS - Inskrywings vir die Oudtshoorn-rolbalklub se tweede sakeliga vir 2017, is besig om in te stroom.
Die liga begin op Woensdag 11 Oktober en duur ses weke, waar spanne elke Woensdag teen 'n ander span sal kompeteer.
Gertjie Bekker, president van die rolbalklub, sê: "Voornemende spanne moet onthou dat slegs 52 spanne (208 spelers) geakkommodeer kan word."
Die sakeliga is die ideale geleentheid vir besighede om span te bou en sosiaal te verkeer met ander besighede.
Groot pryse is op die spel en besighede kan ook pryse skenk, wat as bemarking vir die betrokke besigheid sal dien."
Werknemers van besighede, asook vriende en familie van deelnemers word genooi om hul spanne te kom ondersteun.
Na ses weke se spel sal die wenspan met prysgeld van R1 200 wegstap.
Die tweede prys is R1 000 en die derde prys R800.
Ander pryse sal ook op die spel wees.
Inskrywingsgeld beloop R900 per span (vir die ses weke tydperk), bestaande uit vier lede. Spelers kan deelneem in kleredrag van hul keuse, maar moet skoene of sandale met 'n redelike gladde sool, sonder hakke, dra.
Spelers moet Woensdae om 17:30 by die klub wees en spel sal om 18:00 begin.
Reëls
- Wedstryde word oor 12 koppe beslis.
- Spanlede mag wissel.
- Spelers mag nie aan die klub behoort nie.
- Die klub sal afrigters en helpers voorsien, waar nodig.
Spelers sal na afloop van die wedstryde elkeen 'n gratis hamburger kry.
Hamburgers is ook teen R20 te koop.
Vir nadere besonderhede kan Bekker by 072 246 7792, of Alwyn Koegelenberg by 076 797 0252 gekontak word.
Lees 'n vorige artikel: Skryf in vir rolbalklub sageliga
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Tuinroete nuus'