OUDTSHOORN NUUS - Inskrywings vir die Oudtshoorn-rolbalklub se tweede sakeliga vir 2017, het geopen.
Die liga begin op Woensdag 11 Oktober en duur ses weke, waar spanne elke Woensdag teen 'n ander span sal kompeteer.
Gertjie Bekker, president van die rolbalklub, sê: "Die sakeliga is die ideale geleentheid vir besighede om span te bou en sosiaal te verkeer met ander besighede."
Werknemers van besighede, asook vriende en familie van deelnemers word genooi om hul spanne te kom ondersteun.
Na ses weke se spel sal die wenspan met prysgeld van R1 200 wegstap. Die tweede prys is R1 000 en die derde prys R800. Ander pryse sal ook op die spel wees.
Inskrywingsgeld beloop R900 per span (vir die ses weke tydperk), bestaande uit vier lede. Spelers kan deelneem in kleredrag van hul keuse, maar moet skoene of sandale met 'n redelike gladde sool, sonder hakke, dra.
Spelers moet Woensdae om 17:30 by die klub wees en spel sal om 18:00 begin.
Reëls
• Wedstryde word oor 12 koppe beslis.
• Spanlede mag wissel.
• Spelers mag nie aan die klub behoort nie.
• Die klub sal afrigters en helpers voorsien, waar nodig.
Spelers sal na afloop van die wedstryde elkeen 'n gratis hamburger kry. Hamburgers is ook teen R20 te koop. Vir nadere besonderhede kan Gertjie Bekker by 072 246 7792, of Alwyn Koegelenberg by 076 797 0252 gekontak word.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'