OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn-infanterieskool het die afgelope naweek, ter ere van Mandeladag, kinders by die basis ontvang en 'n sokker-toernooi aangebied.
Volgens Desiree Mawela, die regsbeampte, het die Infanterieskool se vaardigheids-ontwikkelingssentrum, die bevelvoerder, sowel as ander lede en rekrute verbonde aan die Infanterieskool, baie moeite ingesit om van die dag 'n reusesukses te maak.
"Kinders van personeel van die Infanterieskool, sowel as kinders van Rosevalley het die dag meegemaak. Ons het sokker met die kinders gespeel en almal het sommer vinnig vriende gemaak. Ons het begin deur eers die kinders in te lig waaroor die dag gaan en wie Nelson Mandela was."
Volgens haar was die kinders wat deel geneem het tussen 7 en 15 jaar oud.
Rekrute van die militêre vaardigheidsontwikkelingssentrum het motiveringspraatjies gelewer en het ook opgetree en noodhulp langs die veld, skeids-regters en lynregters.
Alpha FC Oudtshoorn is as die algehele wenners van die dag aangewys.
Spanne het ook na die tyd spesiale toekennings ontvang wat spesiaal vir dié dag gemaak is.
Die res van die uitslae was as volg:
- o. 11: Alpha FC Oudtshoorn wen Universal Stars 2 - 0.
- o. 13: Alpha FC Oudtshoorn wen Arsenal 2 - 0
- o. 15: Alpha FC Oudtshoorn wen Arsenal FC 5 - 0
Mawela het ook haar dank teenoor Nadine Hughes uitgespreek vir haar bydrae tot die dag en die toekennings wat sy gemaak het.
Die afrigters van die onderskeie spanne moet 'n klop op die skouer kry vir die moeite wat hulle met die kinders doen om hulle van die strate af te hou en hulle nuwe vaardighede te leer.