ROLBAL NUUS - Reëlings het in alle erns begin vir die jaarlikse All Cape-rolbaltoernooi, wat een van die grootste rolbaltoernooie ooit in die Eden-streek gaan wees. Die plan is om dit aanstaande jaar van 8 tot 14 April te hou, maar die finale datum moet nog bevestig word.
Na verwagting sal wedstryde op 24 rolbalbane in die gebied gespeel word. Dit sluit rolbalbane van onder meer Riversdal, Mosselbaai, George, Knysna, Plettenbergbaai en Oudtshoorn in.
Jenny Sinclair, sameroeper van die reëlingskomitee, het Vrydag 7 Julie by navraag gesê gewoonlik lok die toernooi rolbalspelers vanoor Suid-Afrika en veral die Wes-Kaap.
Sowat 330 spanne bestaande uit vier lede elk sal na verwagting deelneem. Dit sluit vroue en mans in.
Dit is oop vir enige geregistreerde deelnemer van 'n klub en die ouderdomme van deelnemers wissel tussen 20 en 80 jaar. Die sluitingsdatum vir inskrywings is einde Februarie 2024.
Wedstryde word in verskillende afdelings ingedeel en elke span speel nege wedstryde voor die finale wedstryde.
Na verwagting sal bekende spelers soos die huidige Protea-speler Colleen Piketh, voormalige Protea-spelers Billy Radloff en Tinus Oelofse al drie woonagtig in die Eden-distrik, deelneem.
Ekonomiese inspuiting
Om so 'n geleentheid te reël stel groot logistieke uitdagings. Benewens die wedstryde self, moet deelnemers ook huisvesting kry en van vervoer voorsien word. Dit het beslis ekonomiese voordele vir die onderskeie dorpe. Volgens haar is die toernooi 'n groot geleentheid vir besighede om betrokke te raak, soos byvoorbeeld, verblyfinstansies, eetplekke en motorhuurondernemings.
Die reëlingskomitee sal gesetel wees by die George-rolbalklub, waar die finale wedstryde ook plaasvind.
Volgens haar is die sport besig om in gewildheid toe te neem, veral onder die jonger garde. So 'n geleentheid maak ook mense bewus van die sport.
Die organiseerders is bevoorreg om 'n borg, Personal Trust aan boord te hê. Hulle stel 'n groot borgskap beskikbaar.
Vir meer inligting kontak Jenny Sinclair by 082 324 3052 of e-pos jsinclai@mweb.co.za.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’