OUDTSHOORN NUUS - 'n Groot eer het Sonja Schultz, veel bekroonde administrateur van Edenfietsry onlangs te beurt geval toe sy as deel van Afcon (Afrika kontinentale baankampioenskappe) se bestuurspan, vanaf 10 tot 14 Januarie diens in Egipte gedoen het.
Volgens Schultz was sy deel van drie bestuurslede van Suid-Afrika wat gekies is om die SA fietsryspan na Egipte te vergesel. Sy vertel dat die bestuurslede reeds vanaf 8 Januarie na Egipte vertrek het om alle reëlings in plek te kry vir die SA span.
Schultz is al vir die afgelope ses jaar betrokke by fietsry. Sy het onder die mentorskap van Corné Bence geleer van fietsry en was al by verskeie groot toernooie betrokke. "My betrokkenheid by fietsry het begin as gevolg van my kinders wat begin fietsry het. Ek het ook vir ses jaar op die Oudtshoornfietsryklub se komitee gedien, waarvan ek twee jaar die voorsitter was. Op die oomblik is ek die sekretaresse van Eden-fietsry sowel as Wes-Kaap-fietsry. Verder dien ek ook op die Vrouekommissie van Fietsry Suid-Afrika asook op die Vrouekommissie van die WesKaapse Sportfederasie."
Op 'n vraag hoe dit gebeur het dat sy in aanmerking gekom het om op Afcon se bestuur te dien het Schultz geantwoord dat CSA (Cycling South Africa) 'n kennisgewing uitgestuur het vir aansoeke om deel uit te maak van die bestuurspan.
"Volgens die vereistes moet jy in besit wees van jou B-lisensie (internasionaal) en jy moes al op verskeie nasionale byeenkomste gewerk het. Ek is ook vlak 1 en 2 medies gekwalifiseerd asook gekwalifiseerde Safeguarding Officer. Jy dien dan jou CV in en daar vind 'n keuringsproses plaas waar die bestuurspan finaal gekies word."
Wat toekennings betref het Schultz vir twee agtereenvolgende jare die Eden Sportadministrateur van die Jaar toekenning ingepalm. Sy het ook al 'n Eden Fietsry Presidentstoekenning en Wes-Kaap fietsry Presidentstoekenning in haar administratiewe loopbaan ontvang.
Oor haar ervaring in Egipte vertel sy dat Suid-Afrikaanse fietsryers glad nie vir die res van die lande in Afrika hoef terug te staan nie. "Ons vergelyk baie goed met hulle. Ons grootste probleem is maar finansiering vir fietsryers om oorsee te gaan deelneem. Fietsry is tans 'n selfbefondsingsport en dit maak dit moeilik vir ryers om oorsee te gaan kompeteer. Eden is die streek met van die beste baanryers in die land en is ook die streek wat die meeste SA baanfietsryers oplewer. Hier kan mens Charlissa Schultz, Anya du Plessis, Tia Marnewick uitsonder om net 'n paar te noem. So in my opinie kan ander streke en provinsies by Eden kom leer oor hoe dit gedoen word," sê Schultz.
Sy vertel verder dat die hoogtepunt van haar ervaring was om ander administrateurs te kon ontmoet om sodoende ook vriendskapsbande sowel as professionele bande te smee. "As administrateurs is dit natuurlik deurgaans harde werk, maar dis alles die moeite werd as jy vir die ryers by die eindstreep wag en dan daai gesig van oorwinning te sien; die euforiese oomblik is moeilik om te beskryf, maar jy vorm deel daarvan. Tesame met die UCI-president van Afrika, dr. Azam, het ek ook die voorreg gehad om Egipte se minister van sport, dr.
Ashraf Sobhy, te ontmoet. Dit was regtig 'n belewenis."
In die afdelings waarin meegeding is, het Suid-Afrika se 11 fietsryers 'n totaal van 16 goue, agt silwer- en twee bronsmedaljes verower.