OUDTSHOORN NUUS - 'n Sportlegende van Oudtshoorn, Lampies Lamprecht, was een van slegs 13 sportlegendes in die Wes-Kaap wat die eer beskore was om met die Wes-Kaap ministeriële legende status vereer te word.
Die Wes-Kaapse minister van kultuursake en sport, Anroux Marais, het Donderdag 14 September die 13 legendes tydens 'n glansfunksie in die Paarl vereer vir die lewenslange bydrae wat hulle tot sport gemaak het.
Bill Turner, Ronald Scholtz en Derick Petersen (almal van George) is die enigste ander legendes vanuit die Eden-distrik wat deur Marais vereer is.
Dave van der Walt, sekretaris van die Eden-sportraad, het die afgelope Maandag gesê: "Eden-sportraad is besonder trots op hierdie legendes wat toegevoeg is tot die lang lys van Wes-Kaap legendes wat reeds in die Eden-distrik rondloop, of ons al verlaat het tot hoër dienste.
Lamprecht word deur Van der Walt as 'n sportman wat al diep spore as beide atleet en administrateur getrap het, beskryf.
"Hy het al vyf Comrades-marathons voltooi en was vir meer as 10 jaar die voorsitter van ASWD se padhardloopvereniging.
"Hy is tans nog aktief as meestersatleet en organiseer die weeklikse tydtoetse op Oudtshoorn. Hy behartig nog steeds sy boekhou-besigheid."
Lamprecht het aan die Oudtshoorn Courant gesê hy het in 1984 by die Oudtshoorn-atletiekklub aangesluit en dit op dreef gekry.
Behalwe vir sy Comrades deelname het hy met die Twee Oseane-marathons 11 brons medaljes en een silwer losgehardloop,
Hy is tans die voorsitter van die Nedbank-atletiekklub op Oudtshoorn en op die bestuur van die Eden Nedbank-atletiekklub.
Ander Eden-legendes:
Ronald Scholtz (George) - oudskoolhoof van Pacaltsdorp en 'n man wat diep spore in rugby in die SWD getrap het.
Bo en behalwe die feit dat hy self 1970–80 vir SWD gespeel het, beskou hy eerder sy bydrae tot skolesport as 'n hoogtepunt.
Hy was per geleentheid ook die afrigter van die SWD o.13-Cravenweekspan.
Derick Petersen (George) - as laerskoolleerder verteenwoordig hy SWD Laerskole in 1978, dien as voorsitter van Progress-rugbyklub en word beskou as die vader van die Mr Meat-konsep.
Daarbenewens tree hy op as spanbestuurder van die SWD Arende en Stormers en is 'n lewenslange lid van SWD-rugby. Hy is ook deur Eeden-sportraad vereer as lewenslange presteerder.
Bill Turner (George) - op die ouderdom van 50 jaar begin hy eers in die seiljagsport en vandag op 83 is hy nog steeds aktief by die George Lakes Yacht Club.
Turner het selfs aan die wêreldkampioenskappe deelgeneem. Maar baie van ons sal hom eerder onthou vir die wonderlike werk wat hy op die ontwikkelingsvlak lewer en tans is daar meer as 30 sulke seilers – waarvan een pas gekies is om in China te gaan deelneem.
"Eden-sportraad en die totale sportgemeenskap van Eden-distrik salueer hierdie manne. Ons benadruk dat daar nog baie sulke legendes in ons midde rondloop wat nog nie vereer is nie.
"Indien daar in julle gemeenskappe sulke potensiële legendes rondloop wat our as 60 jaar is, laat asseblief die Eden-sportraad daarvan weet."
Inligting kan gestuur word na Van der Walt by sportcouncil.eden@gmail.com.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'