OUDTSHOORN NUUS - Laerskool Laurus se 440 kg-toutrekspan het onlangs Oudtshoorn se vlag hoog laat wapper toe dié span goud by vanjaar se nasionale SA toutrek-kampioenskappe in Swellendam verower het.
Dit is ook die eerste keer in Laerskool Laurus se geskiedenis dat hy hierdie uitmuntende prestasie by die SA's kon behaal.
Om die kersie op die koek te sit het hul 440 kg B-span die silwersertifikaat in die plaatafdeling ingepalm.
Volgens die spanne se afrigters, Wayne Allen en Rayno Grundlingh, het toutrek jaarliks by die skool gegroei ondanks terugslae weens die Covid-pandemie.
"Leerders het nuwe oorwinnings behaal deur hul meerkat-karakter uit te leef by elke laatmiddagoefening.
Dit is ook die eerste jaar dat ons by elke toernooi wegstap met 'n medalje en die nodige resultate wat opgebou het tot 'n suksesvolle SA's.
Ons wil graag elke toutrekker, die Laurus-afrigterspan, ouers, borge, personeel en bestuur bedank en ons sien uit om aan te hou groei en oorwin tydens die 2024-seisoen."
Wayne Allen en Rayno Grundlingh, afrigters by Laerskool Laurus het beide as gr. 3-skeidsregters gegradeer tydens die SA toutrekkampioenskappe in Swellendam.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’