OUDTSHOORN NUUS - Die veerpylklub van die Oudtshoorn Korrektiewe Dienste het ‘n skitterjaar agter die rug en sien uit daarna om in 2019 nog groter hoogtes te bereik.
So het die voorsitter van die klub, Franklin Goliath gesê nadat die klub vyf bekers in die Oudtshoorn Veerpyl Assosiasie-toernooi gewen het.
Die klub se B-span was die algehele wenners van die winterliga en naaswenners van die somerliga.
Die span was ook die wenner van die superbeker met ‘n oorwinning in die eindstryd oor die Vikings.
Daarbenewens was die A-span die naaswenners in beide superligas (somer en winter), asook die naaswenners van die drie-aan-‘n-kant-toernooi wat Franklin Goliath, Donevin John en Kevin Barnard ingesluit het.
Goliath het sy bestuur en spelers bedank vir hul toewyding, dissipline en harde werk die afgelope jaar, asook hul gades vir hul volgehoue ondersteuning.
Individuele uitblinkers van die jaar:
- Franklin Goliath en Donevin John: Dubbelskampioene naaswenners
- Donevin John: Enkelspelkampioenskap naaswenner, eerste plek algehele merietelys asook eerste 171 balkie-ontvanger.
- Richard Blaauw: Hoogste toernooi-telling vir seisoen (169)
- Donney Rhodes: Voorgee naaswenner
- Frederick van Rooyen: 180 balkie-ontvanger
- Humphrey Human: 180 balkie-ontvanger
Die Oudtshoorn Korrektiewe Dienste se veerpylklub met die jaar se trofeë is voor, van links: Donnelly Rhodes (kaptein), Johan de Jager (tesourier), Franklin Goliath (voorsitter), Frederick van Rooyen (onder-voorsitter) en Lee-Shane Swartbooi (onderkaptein). Agter staan Kevin Barnard, Donevin John, Richard Blaauw, Rano Tiemie, Ntobeko Mehlamane en Humphrey Human. Afwesig: Ampie Barnard. Foto's: Garnett Wicomb
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'