OUDTSHOORN NUUS - Die sintetiese grasoppervlak van die splinternuwe hokkieveld wat gebou gaan word by Langenhoven Gimnasium is Dinsdag by die skool deur skeepshouers afgelewer.
Dié grasoppervlak, wat volgens spesifieke spesifikasies vervaardig is, is vanaf België ingevoer.
Stephanus Potgieter, skoolhoof van Langenhoven Gimnasium het aan die Oudtshoorn Courant gesê dat bouwerk fluks vorder. Volgens hom is die skool dankbaar vir die kundigheid van plaaslike kontrakteurs wat gehelp het om die oppervlak voor te berei.
Die konstruksie van hierdie projek het reeds in Oktober begin en behoort teen Februarie aanstaande jaar voltooi te wees.
Planne om 'n eerste openingshokkietoernooi in Meimaand tussen plaaslike laer- en hoërskoolspanne te hou is reeds in 'n gevorderde stadium.
Werkers is druk besig om die oppervlak voor te berei waar die hokkieveld gebou word. Foto's: Wyndham Ewerts
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'