TUINROETE DISTRIK SPORTNUUS - Lede van die Suid-Kaap Jagters (SJB) het op Saterdag, 13 November net buite De Rust aan die gewilde ghonguitdaging deelgeneem.
Skuts neem in spanne van vier deel en moet behoorlik uithaal om hul staal te wys.
Die kompetisie, aangebied deur SJB in samewerking met Wildman Hunting & Outdoor in George, het op die plaas Aangenaam van Henry en Martie van der Westhuizen net buite De Rust plaasgevind.
FOTOGALERY: SJB Ghonguitdaging
Hoewel die windjie op die oog af baie bedaard voorgekom het, was dit gou duidelik dat die baan nie mak was nie. Die toestande het goeie spanwerk, 'n geoefende roer en geduld geverg om die 30 ghongs op ses verskillende bane te kon hoor klap.
Op elke baan was skuts genoodsaak om vanuit verskillende posisies te skiet. Een van die uitdagendste was natuurlik waar die hele span agterop 'n bakkie moes staan terwyl een skut die ghongs moes aandurf en die ander drie bewegingloos moes bly. Die tellings van die meer ervare skuts het, net soos in die verlede, daarop gewys dat geluk beslis nie die deurslaggewende faktor is om die podium te haal nie. Dié stelling word gestaaf deur die feit dat die oudste deelnemer van die dag, Johan Fourie oftewel die gentleman, lid was van die wenspan.
Pryswenners
In teenstelling hiermee het die ruim gelukstrekkings wat deur die borg beskikbaar gestel is vir groot verrassings en vreugde gesorg vir die vele pryswenners. Dit tesame met die wonderlike gees wat daar geheers het en die samesyn tydens die ete en prysuitdeling was vir seker 'n wenresep om skuts na die volgende ghonguitdaging te laat uitsien.
Die spanne wat as wenners uit die stryd getree het is as volg:
- 1ste – 3 Gemorsse & 'n gentleman: Christo Delport, Niaan Fourie, Hein de Swardt en Johan Fourie
- 2de – Team AHS: Raynor Becker, Danie Barnard, Johan Delport en Deon van Tonder
- 3de – Die Vermooredenaars: John Moore, Brett Holton, Christo Carstens en James Moore
Die wenspan, (van links) Louis Welman (SJB), Niaan Fourie, Hein de Swardt, Johan Fourie, Christo Delport en Tienie Hattingh (Wildman).
Groot dank en waardering aan die hoofborg van die dag asook aan die skuts wat ingeskryf het en baanoffisiere vir hul onbaatsugtige bydrae tot hierdie suksesvolle dag. 'n Spesiale dankie aan Henry en Martie vir hul groot bydrae en gasvryheid. Die Bestuur van Suid-Kaap Jagters wens almal 'n geseënde Kersfees en voorspoedige 2022 toe.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'