Hendriks het sy been op die ouderdom van 6 jaar in 'n motorongeluk in Meiringspoort verloor. Hy het sy laerskool loopbaan by Laerskool De Villiers voltooi waarna hy na Bridgton Sekondêre Skool is. Hy het sy matriek by George Hoërskool voltooi.
"Ek het geleer die lewe skuld jou niks en dit gaan aan met of sonder jou. Ek het besluit om die beste van my situasie te maak en
voluit te gaan," vertel hy met 'n trotse glimlag.
Hendriks het BA gewoon by die Universiteit Stellenbosch gestudeer waar hy in 2001 'n sportkliniek wat deur Hansie Cronjé aangebied is bygewoon het. Dit is hier waar hy besef het hy kan sy liefde vir sport verder neem.
In 2008 het hy aan 'n marathon in New York deelgeneem en daarna het hy vele ander marathons en halfmarathons in die rolstoelafdeling gewen. Hy het ook die SA kampioenskappe in 2008 gewen.
Sy groot kompetisie is Ernst van Dyk, waarskynlik Suid-Afrika se beste rolstoelatleet.
Hendriks sê ten spyte van die feit dat finansies knyp, het hy nog nooit moed opgegee op sy droom nie.
Hy sal graag aan meer kwalifiserende kompetisies wil deelneem om aan die Paralimpiese Spele deel te neem.
"Ek weet ek gaan dit eendag kan doen. Op die stadium wil ek net graag vir CWC bedank. Hulle is my grootste borg en het baie moeite gedoen om my in Spanje te kry," vertel hy.
Klik hier vir 'n vorige nuusflits.

CWC in Oudtshoorn het Gerrit Hendriks, Oudtshoorn se eie rolstoelatleet, geborg om op 29 November in Spanje aan die Lanzarote-marathon deel te neem.
ARTIKEL EN FOTO'S: LIEZL VAN NIEKERK, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein-Karoo nuus'