SPORT NUUS - Spanne wat vandag (27 Oktober) aan die streekkompetisie van die Golden Games in Oudtshoorn gaan deelneem, wees gewaarsku - George se span is reg.
Die span van George wat uit 50 deelnemers en 10 ondersteuningspersoneellede bestaan, het onlangs by die Pacaltsdorp-sportterrein bymekaargekom vir 'n oefensessie om mekaar beter te leer ken.
Die jaarlikse geleentheid is baie gewild en sorg vir groot opwinding. As gevolg van die Covid-19-situasie kon dit nie verlede jaar gehou word.
Tydens die geleentheid vandag sal spanne van Bitou, Knysna, George, Mosselbaai, Hessequa en Oudtshoorn deelneem.
Lesley Ruiters, sameroeper van die George-span, het gesê daar is twee afdelings naamlik die 60+ en die 70+. Mans en vroue neem deel.
Daar word in verskeie sportsoorte meegeding wat insluit jukskei, rugbybal gooi, naellope en velditems.
Volgens hom beteken dit baie vir die bejaardes. Daar is deelnemers wat elke jaar aan dieselfde sport deelneem. Die deelnemers is baie mededingend en wil wen. Dit is vir hulle 'n kompetisie.
Deelnemers vir die span is gekies nadat geleenthede by agt sentrums in George gehou is. Die wenners en die beste speler in die onderskeie afdelings, is opgeneem in die span.
Mario Jansen van die departement maatskaplike ontwikkeling en afrigter van die span, het gesê die inisiatief is in 2006 deur die departement van maatskaplike dienste begin. Oor die jare het dit groter geraak en dit is uitgebrei tot op nasionale vlak waar ander provinsies ook betrokke is.
In Oudtshoorn sal 380 deelnemers van die onderskeie dorpe deelneem. In die verlede was daar al 96 deelnemers van George, maar as gevolg van onder meer begrotings-beperkinge kon deelnemers nie in al die afdelings geplaas word nie. Vir van die deelnemers is dit die hoogtepunt van die jaar.
Dirk Wessels, 'n burgemeesterskomiteelid van die George-stadsraad, het gesê die stadsraad steun die geleentheid.
"Ons wens die deelnemers sterkte toe en hoop hulle doen goed. Die geleentheid wys dat bejaardes nog aktief aan sport kan deelneem en het 'n rol te speel in die samelewing."
Gert Niehaus van Avbob het gesê bejaardes het oor baie jare bygedra tot die ekonomie en baie vir mense gedoen.
Die plaaslike deel van die maatskappy borg die T-hemde van die George-span en Niehaus was self teenwoordig verlede week. "Dis nou ons tyd om iets terug te gee vir bejaardes as waardering vir wat hulle gedoen het."
Niehaus is van voorneme om self die geleentheid in Oudtshoorn by te woon. "Die bejaardes is 'n voorbeeld vir jongmense. Hierdie is 'n geleentheid waar bejaardes nog van waarde kan voel."
George se span wat aan die Golden Games in Oudtshoorn gaan deelneem het by die Pacaltsdorp-sportterrein vir 'n oefensessie bymekaargekom. Die geleentheid is ook bygewoon deur stadsraadslede en 'n verteenwoordiger van 'n borgmaatskappy. Foto: Eugene Gunning
George se span wat aan die Golden Games in Oudtshoorn gaan deelneem het by die Pacaltsdorp-sportterrein vir 'n oefensessie bymekaargekom. Die geleentheid is ook bygewoon deur stadsraadslede en 'n verteenwoordiger van 'n borgmaatskappy. Foto's: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'