OUDTSHOORN NUUS - Corné Bence, president van Eden-fietsry, het bevestig dat hulle slaggereed is om die SA pad en tydtoets fietsrykampionskappe van 6 tot 11 Februarie op Oudtshoorn aan te bied.
Die renne begin en eindig by die Rec in Voortrekkerweg en vind van 08:00 tot 17:00 elke dag plaas.
Louis Visser, woordvoerder van Eden-fietsry sê, die hoogtepunt van die week se renne is Saterdag 10 Februarie wanneer die Elite-ryers, (mans én vroue) ry.
"Daar is verskeie internasionale ryers wat ook gaan deelneem waaronder Daryl Impey wat onlangs die Tour Down Under in Australië gewen het."
Visser vra die publiek se geduld oor die feit dat daar baie fietsryers in Oudtshoorn gaan wees vir die week en Voortrekkerweg vanaf Langenhovenweg tot op die Calitzdorp-pad gebruik sal word.
"Die uitgaande twee bane gaan vir verkeer gesluit wees gedurende die dag en die twee inkomende bane, wat normaalweg 'n dubbel inkomende baan is sal na 'n tweerigtingbaan verander.
"Dieselfde gaan ook vir Langenhovenweg geld, aangesien Langenhovenweg vanaf die Bokomo-brug tot by Voortrekkerweg se dubbele inkomende bane deel van die roete sal uitmaak. Rademeyer- en Vredestraat sal ook geraak word."
Visser verduidelik dat die roetes vir die eerste drie dae vanuit die dorp, voor die Rec na die Mosselbaai-afdraai en dan na die Safari-volsruisskouplaas en weer terug dorp toe met Rademeyerstraat en Langenhovenweg sal wees.
"Vanaf Vrydag sal die deelnemers uit die dorp na Volmoed tot by die Mosselbaai-kruising en ook op die Highgate-pad ry.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'