OUDTSHOORN SPORTNUUS - Die 10de TimberCity-fietswedren het die afgelope naweek altesaam 540 fietsryers van oor die land gelok.
Dié eerste wedrenne het reeds vanaf 07:30 in Hoogstraat naby Kleinplaas-vakansieoord weggespring met die straatmyl wat om 14:00 begin het.
Volgens een van die organiseerders, Corné Bence, is dit die enigste gekeurde fietswedren waar ryers vir volgende jaar se Cape Town-fietsrytoer kan kwalifiseer.
Die feit dat die fietsrybyeenkoms deur Fietsry SA ondersteun word is volgens Bence 'n duidelike bewys dat Eden Cycling Association as die topstreek in die Wes-Kaap en Fietsry Suid-afrika beskou word vir sy transformasie- en ontwikkelingsinisiatiewe.
Alhoewel daar heelwat van die land se topfietsryers deelgeneem het, het Oudtshoorn se eie ryers soos Benino Hans, Charlissa Schultz, Louis Visser, Fienie Barnard, Zoe Arnad, Willem Serfontein, Keanu van Rooyen, Marchall Hendricks, Bea Strydom en Errol Pretorius onder andere puik vertoon.
Bence het al die borge bedank wat die byeenkoms moontlik gemaak het en ook bevestig dat die hoofborg, Timbercity, hom reeds tot volgende jaar se fietsrybyeenkoms verbind het.
Marchall Hendricks in aksie. Foto verskaf
Charlissa Schultz (ligblou) ry voor in die bondel. Foto verskaf
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'