OUDTSHOORN NUUS - Ses atlete van die Eljada-nasorgsentrum is tydens 'n spesiale geleentheid op Vrydag 29 Mei vereer vir hul uitstekende prestasies op die onlangse SA tweekamp-kampioenskappe, waar hulle elk goue medaljes verower het.
Eden-tweekamp het deur die jare 'n belangrike rol gespeel in die bevordering van inklusiewe deelname aan die sport en was een van die dryfkragte agter die insluiting van 'n afdeling vir atlete met gestremdhede vanaf klubvlak tot op nasionale vlak.
Hierdie inisiatief het wyd lof ontvang van verskeie sportorganisasies en gemeenskappe.
Die internasionale swemmer, Minke Janse van Rensburg, het haar sportloopbaan onder meer in hierdie kategorie onder die vaandel van Eden-tweekamp begin.
Tydens die geleentheid het Gerda Swart, hoof van Eljada-nasorgsentrum, haar waardering uitgespreek teenoor Eden-tweekamp vir hul volgehoue ondersteuning van atlete met gestremdhede, en veral vir die geleenthede wat aan Eljada-nasorgsentrum se sportlui gebied word.
Goue medaljes
Die goue medaljes is oorhandig deur Stephnie McKay, voorsitter van Eden-tweekamp, en Dave van der Walt, operasionele bestuurder van Eden-tweekamp.
Die ses medaljewenners wat vereer is, is: Jannie Lourens, Danie Botes, Michele Lombard, Miena Baartman, Maja Ehlers en Elisabeth Botes.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’