OUDTSHOORN NUUS - Die junior spelers van die Oudtshoorn Elephants-hokkieklub se selfvertroue het die afgelope maand ’n groot hupstoot gekry nadat hulle goud tydens die PSi Nationals (Suide) in Kaapstad verower het.
Dit was die klub se eerste juniorspan wat aan die nasionale toernooi deelgeneem het.
Die seniorspan berei hulle intussen voor om later vanjaar vir die derde keer aan die nasionale kampioenskappe deel te neem, wat in Desember plaasvind.
As deel van dié voorbereiding beoog die klub om van 28 tot 30 Augustus sy eerste binnenshuise-skolehokkietoernooi in Oudtshoorn aan te bied. Volgens Nadine Hughes, bemarker van die Oudtshoorn Elephants, het die spelers in ’n kort tyd merkwaardige groei getoon.
“Hulle het hierdie reis begin as ’n groep meisies wat bloot ’n liefde vir hokkie deel en wou sien hoe hulle teen die mededinging in Kaapstad sou vaar. Teen die einde van die eerste dag het hul doelwit verander na: Kom ons speel vir ’n plek op die podium.”
Nadat hulle ’n opwindende wedstryd tydens die PSi Expo gekyk het, het hulle nog groter begin droom: “Ons wil speel om te wen.
Teen die einde van die naweek het hulle presies dit reggekry en met trots hul goue medaljes ontvang. Dit was ’n ongelooflike reis van die hoop om mee te ding, na die oortuiging dat hulle daar hoort, tot uiteindelik as kampioene bekroon te word.
Ons kon nie trotser op hierdie besondere span wees nie,” sê Hughes.
Sy verduidelik dat dit die eerste juniorspan van die Oudtshoorn Elephants was wat sedert die klub in 2019 oorgeneem is, aan die PSi Nationals deelgeneem het.
“Ons kan soveel spanne as wat ons wil na die nasionale neem. Vir die spelers is dit altyd ’n spesiale ervaring, want die atmosfeer by die toernooi is heeltemal anders.”
Hughes het ook die inisiatief geneem om binnenshuise-hokkietoernooie vir skole te begin.
“Ons wil graag vroeg volgende jaar ’n juniortoernooi vir alle laerskole in ons omgewing aanbied. Intussen vertrek ons seniorspelers in die o. 13- tot o. 18-ouderdomsgroepe van 13 tot 17 Desember na die nasionale.”
Volgens Hughes is die klub se hoofdoel om hokkie in die streek verder te laat groei.
“Princess Hockey is een van ons borge. Spelers kan ook hokkietoerusting en -klere by Princess Hockey se winkel by Langenhoven Gimnasium aankoop.” Die Elephants oefen by die De Jager-sportkompleks in Oudtshoorn.
Vir meer inligting kan Hughes by 082 059 3734 gekontak word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’