OUDTSHOORN NUUS - Bykans 50 ruiters, 19 Outeniqua Uithourit-klublede, en 16 vanaf Oudtshoorn, het die afgelope naweek aan die KBBO De Rust-uithourit deelgeneem. Die geleentheid is sowat 40 km vanaf De Rust gehou.
Alhoewel die rit as uitdagend en baie tegnies beskryf was, het Nico-Meyer le Roux, Springbok ruiter en oud-Langenhoven Gimnasium-leerling, die baan in drie ure en 55 minute kaf gedraf.
Vyf minute voor die 2de en 3de plek ruiters in die 80 km-kategorie.
Die baan het bestaan uit bulte, afdraandes, klipbanke en sand gedeeltes waar ruiters plek-plek van hul perde moes afklim, of net stap.
Ten spyte daarvan dat dit 'n moeiliker baan was, het 90% van die perde wat deelgeneem het, die rit suksesvol voltooi.
"Ons is absoluut verheug oor al die ruiters wat die naweek aan die rit deelgeneem het en ons ondersteun het, en sodoende gesorg het dat die rit 'n reusesukses was," het die voorsitter van die Outeniqua-uithouritklub, dr. Henk Basson aan Oudtshoorn Courant gesê.
"Ons het ook fantastiese borge gehad wat pryse vir ons eerste drie plekke in elke kategorie geborg het, sowel as die wenners van die beste gekondisioneerde perde in elke kategorie," sê Basson.
Daar was ook 'n verrassing vir ruiters wat aan die 40 km-kategorie deelgeneem het, en is die topvier ruiters met die beste tye ook bederf met 'n prys.
Nog vyf ruiters het elk 'n perdehalter gewen en die groot prys, 'n skaapwol-saalkleed is ook tydens die gelukstrekking gewen.
Die wenners van die verskillende kategorieë was soos volg:
Algehele wenner en eerste liggewig
- Nico-Meyer le Roux met sy perd BK Habanero.
- 2de Liggewig – Lara le Roux op Stenco Botox.
- 3de Liggewig – Michael Vaaltyn op Welbedach Jamal.
- 1ste Standaard gewig – Stephanie de Jager op SMP Tyson.
- 2de Standaard gewig - Bianca Venter op Zamir.
- 3de Standaard gewig – Mabet Cilliers op Etosha.
- 1ste Swaargewig – Mariette Geldenhuys op Mahrento Sonador.
- 2de Swaargewig – Coenraad le Roux op Shabach Arabella.
- 1ste Young Rider – Anche Muller op Saruk Maverick.
- 2de Young Rider – Petra Crafford op Koringkloof Sabra.
- 1ste Kinderuiter – Hendré Geldenhuys op Mahrento Mona.
- 2de Kinderuiter – Lea Muller op Rafara.
Die volgende rit van die Outeniqua-uithouritklub, sal op 2 en 3 September 2022 by De Zeekoe, net buite Oudtshoorn aangebied word.
Vorige artikel: Nuwe Perdeuithourit dié naweek in De Rust
Nico-Meyer le Roux, algehele wenner en1ste liggewig. Foto's: Johanette Photography (Middelburg)
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'