OUDTSHOORN NUUS - Die Klein-Karoo en Tuinroete spog nie net met ‘n nuwe perdeuithourit nie, maar ook met ‘n nuwe uithouritklub.
Die Outeniqua-uithouritklub is in Januarie gestig en het bykans 40 lede.
“Ons wou graag nog ‘n rit vir ruiters van ons area aanbied en so dit ook meer toeganklik maak vir ruiters wat uit ander areas kom, en nie hoef aansoek te doen vir permitte om by ritte te wees nie,” sê dr. Henk Basson, voorsitter van die klub.
Die nuwe rit vind die naweek van 8 en 9 April plaas, sowat 40 km buite De Rust, en staan bekend as die KBBO De Rust-uithourit.
Daar is bykans 50 ruiters van oor Suid-Afrika wat aan die rit gaan deelneem.
Vrydag sal daar ‘n 40 km rit wees, en Saterdag ‘n 40, 80 en 120 km rit.
Hierdie afstande word in een dag afgelê met drie tot vier bene tussenin. Die bene bestaan uit 40 km, 23 km en 17 km onderskeidelik, met die 120 km-ruiters wat die 40 km-been twee keer voltooi.
Sodra ‘n perd inkom, stop die ruiter se klok. Dan het die ruiter 20 minute tyd om die saal en toom af te haal en die perd se hartklop onder 64 slae per minuut te kry.
Veeartse kyk na die perd se hartklop, of die perd genoeg water gedrink het, na die perd se tandvleis en dan ook of die perd enige beserings opgedoen het of dalk mank is.
Wanneer die perd dan slaag, het die ruiter en perd 40 minute tyd om te rus, te eet en water te drink, voordat hulle uitgaan op die volgende been.
Daar is ook verskillende ouderdomskategorieë, sowel as gewigkategorieë waarin ruiters deelneem.
Perde word weer deur ‘n veearts ondersoek, sodra die rit volledig voltooi is, en weer voor die perd gelaai en huis toe geneem word.
Perde mag ook eers drie ure na ‘n voltooide rit vervoer word en mag daarna vir twee weke nie aan ‘n rit deelneem nie.
“Ons is ongelooflik opgewonde oor die naweek se rit, en is so dankbaar vir al ons wonderlike plaaslike borge, sowel as borge van buite die dorp wat nie geskroom het om ons te ondersteun nie,” sê Basson.
Ten spyte van die moeilike ekonomiese klimaat, veral met die brandstof pryse wat so hoog is, is die Outeniqua-uithouritklub aangenaam verras oor die hoeveelheid ruiters wat aan die nuwe rit gaan deelneem en sien uit daarna om al die besoekers in die Klein-Karoo te verwelkom.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'