OUDTSHOORN NUUS - Die Highgate Eden-tweekampspan het verlede naweek tydens die RB & SON SA tweekampkampioenskappe in Gqeberha die seisoen op 'n hoë noot afgesluit met 'n algehele vierde plek wat in reënerige toestande beslis is.
'n Rekordgetal van 865 atlete van 14 provinsies het deelgeneem en atlete tussen 8 en 78 jaar het die groot skare met puik prestasies getrakteer.
Die spankompetisie is gewen deur WP, en Boland het in die tweede plek geëindig. OP was derde en Eden in 'n goeie vierde plek - dieselfde uitslag as by die Highgate Interprovinsiaal vroeër vanjaar in Oudtshoorn.
Van die klein provinsies het Eden die beste gevaar deur met provinsies soos Gauteng Noord, Sentraal Gauteng, OVS, KZN en Noordwes af te reken.
Volgens die Edenspan se operasionele bestuurder, Dave van der Walt, het die span gewys dat ten spyte van hulle behoeftes aan meer senior atlete, hulle steeds hul stem kan dik maak.
So het Eden gevaar:
- Benjamin Bond (goud en junior victor ludorum)
- Annabel Grutter (goud)
- Johan Windt (silwer)
- Afrigter Esrie Loock-Bezuidenhout (silwer)
- De Wit Botma (brons)
- Petro-Marie Fourie, Mandi Wallace, Marilyn Orren en Mike McDonald het die podium net-net gemis met die vierde plekke wat hulle ingepalm het.
Die volgende atlete kan tevrede voel om onder die top-10 in Suid-Afrika te tel:
- Hendrik Visser,
- Leandré Botes,
- Warnu Haasbroek,
- Cliff Wallace,
- Caleb Coates,
- Mia Hugget,
- Gavin Gericke,
- Melissa Kuun,
- Herman Spangenberg, en
- Zaan van Goeverden.
In die proses is 18 nuwe Eden-rekords verbeter.
Op skolevlak het Eden hulle staal gewys waar nie minder nie as ses skole, die meeste van alle provinsies, gekwalifiseer het om deel te neem.
Hoërskool Outeniqua van George is aangewys as die beste tweekamp-hoërskool in Suid-Afrika.
Yvonne McKay, ou staatmaker vir Eden-tweekamp, is ook vereer deur SA tweekamp met die honoris causa-toekenning vir uitsonderlike diens gelewer.
Ook die voorsitter van Eden-tweekamp, Stephnie McKay, is weer as nasionale keurder herkies. Die volgende SA tweekamp-kampioenskappe in 2023 sal in die Wes-Kaap plaasvind.
Van der Walt het die Eden-bestuur, atlete en hul ouers, beamptes, borge, ondersteuners en die media bedank vir hul ondersteuning.
Esrie Loock-Bezuidenhout. Foto's: verskaf
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'