TUINROETE DISTRIK SPORTNUUS - Daar het groot opgewondenheid tydens die amptelike bekendstelling van die 2021 Eden-straatmylreeks geheers wat op 10 November by die ATKV Tarentaal konferensiesentrum, Hartenbos gehou is.
Nadat Covid-19 die 2020-reeks gekelder het, was dit nogal 'n groot en dapper besluit van die organiseerders, Klein Karoo Atletiekfonds (KKAF) om die 2021-reeks aan te pak. Al die borge was egter positief oor die 2021-straatmyl.
Prysgeld van rondom R60 000 is op die spel en daar word gehoop dat die topatlete in die land weer eens hulle staal sal kom toon. By die geleentheid het die nuut verkose burgemeester van Mosselbaai, raadsheer Dirk Kotzè, dat die Mosselbaai-munisipaliteit dalk meer betrokke kan raak.
Shireen Noble, Atletiek Suid-Afrika (ASA) se vise-president het die verrigtinge afgesluit deur die reeks amptelik oop te verklaar.
Die Eden-straatmylreeks neem met die Klein Karoo straatmyle in Oudtshoorn op 16 Desember 'n aanvang. Hierna gevolg die Swartberg-baanmyle en naellopebyeenkoms by die De Jager-atletiekbaan, Oudtshoorn op 18 Desember. Die finale been word gehardloop op 20 Desember by die ATKV Strandoord, Hartenbos.
Ingebou in die reeks is ook die Grand Prix-kategorie waar die mans- en vroue-atleet wat die meeste punte in die reeks kon versamel, as die wenners aangewys word.
Daar word weer 'n hele paar droommyle verwag.
Die reeks maak ook vir alle ouderdomsgroepe voorsiening wat insluit jong talent wat in 2007 en later gebrore is, meisies en seuns o/18 wat 2004, 2005 of 2006 gebore is, asook 40 jaar en ouer vroue en mans. Dames en mans, dogters en seuns o/20 (2002, 2003) ope.
By die Swartbergbyeenkoms op18 Desember word daar ook vir naellope en 400m voorsiening gemaak vanaf o/12.
'n Ontwikkelingskliniek vir jong atlete sal op 17 Desember by die De Jager-atletiekbaan aangebied word deur die Matie Atletiekklub onder leiding van Hadley Volkwyn. dit word gevolg deur 'n groepbesprekingssessie dieselfde aand by die Eden Sport Akademie, Die bespreking handel oor uitdagings wat die hedendaagse atleet ervaar.
Inskrywings geskied aanlyn. Besoek gerus die webtuiste http://www.edenmiles.co.za waar alle inligting beskikbaar is en die aanlyn-inskrywings gedoen kan word.
Vir navrae kan Hans van der Veen gekontak word by hvdv1966@gmail.com, 083 462 0477 of Dave van der Walt by davesusvdw@gmail.com (082 773 4901).
Agter: Dave van der Walt [KKAF], Donovan Claassen [MBM Raadslid - Sport], Jean Neethling [DCAS], Karen Phipson [ATKV], Dirk Kotzé [MB Burgermeester], DB Prinsloo [UV]. Voor: Jerry Matsoa [NWU HPI], Ruben Gouws [NWU HPI], Hans van der Veen [KKAF]. Foto: Jannie du Plessis