TUINROETE | KAROO NUUS - Die gewilde Eden-straatmylreeks begin op 17 Desember in Baron van Reedestraat met die gewilde Klein Karoo straatmyl.
Daarna skuif die aksie na die De Jager-atletiekstadion vir die baanmyle op 19 Desember en word afgesluit op Hartenbos op 21 Desember.
Meer as R50 000 se prysgeld is op die spel. Die hoofborge is UOVS, NWU en die Wes-Kaapse Departement van Kultuursake & Sport. Addisionele bystand word verleen deur ATKV Hartenbos, Oudtshoorn Ford, Surval, Kleinplaas, Karoopot, ASWD, ASICS, Eden FM, CKI, JW Saad asook vrywilligers.
In 2021 was die standaard van wenners uitstaande met Ryan Mphahlele en Carina Viljoen wat in albei ope-afdelings roeterekords opgestel het. Mhphahlele het vanjaar voortgebou op sy prestasies en uiteindelik 2de in die 1500m by die 2022 Afrika-kampioenskappe geeïndig.
Hy het aangedui dat hy in die komende seisoen na Johan Cronjé se SA Mylrekord van 3:50,70 mik. Viljoen wat in Kalifornië in die VSA gebaseer is, het vanjaar haar persoonlike beste na tyd in die 1500m na 4:08.36 verbeter. Sy sal deur die belowende junior Danielle Verster, nog 'n Suid-Afrikaanse atleet wat ook in die VSA gebaseer is, uitgedaag word.
Die status van straatmyle binne wêreld-atletiek is verhoog deurdat World Athletics dit bygevoeg het tot die nuwe wêreld padkampioenskappe program wat vanjaar vir die eerste keer op 1 Oktober in Latvia aangebied gaan word.
Die Eden-straatmylreeks bied nou aan atlete die geleentheid om Atletiek SA se keurders van hulle kennis te laat neem.
Ouderdomskategorieë
- Jong Talent
- Junior
- Ope
- 40+
Daar is ook 'n prys vir die beste ASWD mans- en damesatlete. Asics borg weer vyf pare skoene vir die beste prestasies vir atlete afkomstig uit die Wes-Kaapse platteland. 'n Potjiekos-ete wat 'n ken-mekaar en motiveringspraatjie insluit, word oudergewoonte by Kleinplaas op 17 Desember aangebied.
Meer inligting is beskibaar op www.edenmiles.co.za en op Facebook.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'