OUDTSHOORN NUUS - Die Eden-sportraad het op Saterdag 27 September 'n spoggeleentheid in Mosselbaai aangebied waartydens hulde gebring is aan plaaslike sportvroue en -manne wat deur hul toewyding en uitnemendheid die streek se sporterfenis help vorm het.
Volgens die sportraad is die doel van die inisiatief om erkenning aan sportlegendes te gee terwyl hulle dit self nog kan beleef en sodoende hul bydraes te vier.
Oudtshoorn se legendes wat vereer is, was:
- Willie Freeks (rugby en padhardloop)
Freeks het vir Perseverance-rugbyklub in Oudtshoorn gespeel en ook op die klubkomitee gedien. Hy het ook op die SWD-skeidsregterskomitee gedien en was 'n SARU-skeidsregter en SWD-verteenwoordiger. Hy was ook 'n ervare marathonatleet.
- Johann Coetzer (atletiek)
Coetzer is sedert 1999 'n trotse deelnemer aan SWD- en SA meesterskampioenskappe en het reeds 101 medaljes ingepalm, waaronder 66 goud. In 2023 het hy silwer gewen by die Afrika Meesters Ope. Hy het SA kleure in 2020 en 2025 verwerf vir verspring en hoogspring en dien ook as afrigter vir ander atlete, waaronder Jason Jafta.
- Jason Jafta (padwedlope)
Jafta se loopbaan strek oor meer as 46 jaar en meer as 500 marathons. Hy het 32 Comrades-marathons voltooi, insluitend brons-, Bill Rowan- en Robert Mtshali-medaljes. Hy het reeds goud gewen by verskeie SA meesterskampioenskappe, en selfs die uitdagende Washie ultra-marathon (160 km) voltooi.
![]() Carlos Biljohn | ![]() Delia Botha Foto's verskaf | ![]() Willie Freeks |
- Carlos Biljohn (krieket)
Biljohn se betrokkenheid by sport begin in 1977. In 1984 keer hy na Oudtshoorn terug en sluit by Western Hope-krieketklub aan. Hy het as speler, skeidsregter, afrigter en administrateur oor dekades 'n groot bydrae gelewer. Hy het op die SWD-krieketraad se uitvoerende komitee (1999-2003 en 2006-2010) gedien en is tans erepresident van Western Hope.
- Delia Botha (netbal en atletiek)
Botha het in beide netbal en atletiek uitgestaan en haar toewyding oor die jare aan jong sportvroue en -manne oorgedra. Haar betrokkenheid het grootliks bygedra tot die bevordering van vrouesport in die streek.
- Manie Olivier (krieket)
Olivier was afwesig tydens die funksie, maar is vir sy bydrae tot krieket vereer.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’