TUINROETE SKUTSNUUS - Eden-skuts het verlede Saterdag by die Louvain-gasteplaas tydens die Kloppers Eden-jaggeweerskiet ope se interdistrikte byeenkoms besonder akkuraat gekorrel en die kompetisie oorheers.
Beide die mans en vroue het in die ope afdeling geseëvier met die Eden-juniors tweede.
Wat individuele prestasies betref, het Jacques du Plooy uitgestaan met sy eerste plek. Niaan Fourie was tweede, Junita van Zyl was die vierde beste vroueskut en Christo Delport het 'n verdienstelike sesde plek behaal.
Altesame 136 skuts uit Eden, Kaapstad en Kaapse Wynland het aan die interdistrikte byeenkoms deelgeneem. Die warm, winderige toestande het die skuts se karakter en deursettingsvermoë behoorlik getoets.
Ná afloop van die kompetisie is pryse toegeken aan die vroue, juniors, penkoppe, seniors, veterane en nie-lede klasse. Skuts wat onder die toptien geëindig het, het groot pryse gewen. Daar was ook verskeie gelukstrekkings.
Eden-mans het 'n eerste plek in die ope afdeling losgeskiet. Van links: Manus Moolman, Jacques du Plooy (wenner), Christo Delport, Niaan Fourie en Leras van Zyl.
Die uitslae van die interdistrikte kompetisie is:
- Mans: 1. Eden 2. Cape Winelands 3. Kaapstad.
- Vroue: 1. Eden 2. Kaapstad 3.
- Juniors: 1. Kaapstad 2. Eden.
Eden-jaggeweerskiet se skuts se beste prestasies was:
Jacques du Plooy (1ste), Niaan Fourie (2de), Junita van Zyl (4de), Christo Delport (6de), Manus Moolman (12de junior), De Waal Nigrini (14de), Renier van Greunen (17de) en Hans-Willem Moolman (19de junior).
Eden se vrouespan wat aan die interdistrikte byeenkoms by Louvain-gasteplaas deelgeneem het. Van links: Junita van Zyl, Anita Butler, Marietha Moolman, Janine Nigrini en Zelda Delport. Hulle was eerste in die ope afdeling.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete nuus'