Update
OUDTSHOORN NUUS - Nege skuts van die Eden-jaggeweerskiet is twee weke gelede na afloop van die Suid-Afrikaanse Jaggeweerskietvereniging se nasionale byeenkoms in die nasionale span opgeneem. Die byeenkoms is in Joubertina (Oos-Kaap) gehou.
Die strawwe byeenkoms was oor twee dae en drie bane beslis. Elke baan was voorsien van ses skietpunte waar 'n jagsituasie gesimuleer word en vyf skote op 'n teiken binne die toegelate tyd geskiet moes word.
Dit beteken daar word van elke skut verwag om konsentrasie te behou vir elk van die 90 skote wat die skut sal skiet gedurende die twee dae lange toernooi.
Al die skuts moes sonder elektroniese toerusting die afstande en windspoed skat.
Anita Butler en Junita van Zyl. Foto verskaf
So het die Eden-skuts gevaar:
- Jacques du Plooy - 4de (Proteaspan)
- Christo Delport - 11de (SASSCO Presidentspan)
In die vroue-afdeling eindig Junita van Zyl 2de, Anita Butler 3de en Marietha Moolman 7de. Al drie lede is vir die dames-Proteaspan gekies.
In die junior-afdeling eindig Manus Moolman (1ste), Leras van Zyl (3de), Anlo Ferreira (5de) en Hans-Willem Moolman (6de) en word die jongmanne in die junior-Proteaspan opgeneem.
Lees 'n vorige artikel: Eden-skuts presteer
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'