OUDTSHOORN NUUS - Die Eden-sportraad en Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport vra die publiek om met name van die streek se sportlegendes vorendag te kom.
Dave van der Walt, sekretaris van die Eden-sportraad, het Dinsdag gesê: "Die Eden-sportraad en departement van kultuursake en sport vereer jaarliks sportlegendes wat 60 jaar en ouer is en wat 'n beduidende bydrae tot die ontwikkeling van sport oor baie jare gelewer het.
Van der Walt is van mening dat sportfederasies se besture verjong en dit gebeur dat hulle nie altyd van sulke legendes in hulle sportkodes weet nie. "Dis hier waar die publiek van onskatbare waarde kan wees."
Die sportraad nooi die publiek uit om die legende se naam, selfoonnommer en/of e-posadres met 'n kort beskrywing hoekom hy/sy genomineer word, aan Van der Walt (sportcouncil.eden@gmail.com) te stuur.
Sportmanne en -vroue wat voor Julie 2017 gesterf het en intens betrokke was by sport, se besonderhede kan ook aan Van der Walt gestuur word.
Die sluitingsdatum vir nominasies is Vrydag 22 Junie.
Vir meer inligting kan Van der Walt by 082 773 4901 gekontak word.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'