Gallery
OUDTSHOORN NUUS - Op die prestige 2018 Eden Sportraad Sporttoekenningsfunksie wat Vrydagaand op Oudtshoorn in die Klein Karoo aangebied is, is Atletiek SWD onder die voorsitterskap van Shireen Noble, aangewys as die top federasie in die Eden Distrik vir 2018. Atletiek SWD het vir die posisie teen 50 ander geaffilieerde federasies meegeding.
Die sportman van die jaar is Jovan Rebula (gholf) en die Sportvrou van die jaar is Elma Davis (rolbal). Die Presidentstoekenning is vanjaar aan die bekende sportadministrateur van Oudtshoorn, Dave van der Walt, gegee. Desmond Speelman. voorsitter van Eden Sportraad, het drie sportaanprysingstoekennings aan sportgeeste uit Oudtshoorn oorhandig - Freda Barnard (Swem), Raymond Avontuur (krieket) en Corné Bence (fietsry).
Volgens die voorsitter van die reëlingskomitee, Rudi Claassen, moes meer as 190 nominasies verwerk word om die wenners in die 33 kategorië aan te wys. Die glansgeleentheid is verlede Vrydag in die Oudtshoorn burgersentrum deur 280 finaliste en gaste bygewoon. 'n Hele aantal genomineerdes was sportmense wat reeds in Proteakleure op internasionale vlak presteer het.
Die oud-Springbokrugbyspeler, Ashwin Willemse, was die gassprker en hy het Mandela se lewe gebruik as voorbeeld vir opkomende sportmanne en – vroue. Hy het ook verwys na sy lewe en hoe sekere mense op kritieke tye in sy lewe daar was om hom rigting te gee. Oudtshoorn se uitvoerende burgemeester, Colan Sylvester, het die Eden sportraad geloof vir die werk en beplanning wat ingesit is om van die aand 'n sukses te maak.
Dr Lyndon Bouah, die Wes-Kaap se hoofdirekteur van sport en rekreasie, het weereens die ondersteuning van sy department bekelmtoon. Hy het genoem dat die Eden sportraad as een van die leidende distriksportrade in die provinsie beskou word. Eden bied ook naas die Kaapse metropool die meeste top sportbyeenkomste in die Weskaap aan.
Die wenners van die onderskeie kategorieë dring deur as finaliste van die Wes-Kaap sporttoekennings wat op 25 Augustus aangebied word.
Die aand is moontlik gemaak deur vennote soos die Weskaapse departement van kultuursake en sport, Oudtshoorn munisipaliteit en die Eden Sportraad. As sekondêre borge het Group Editors, EdenFM, Leading Edge, Oudtshoorn Inn en Liquorland ‘n groot rol gespeel.
Die volledige lys van wenners word saam met ‘n paar foto’s aangeheg.
Oud-springbokrugbyspeler, Ashwin Willemse tussen Colan Sylvester, Oudtshoorn se burgemeester (links) en Rudy Claassen, voorsitter van SWD krieket. Foto's: Ebenezer Titus
Die volledige lys van wenners is as volg:
- Sportadministrateur - Trevor Davis (rolbal)
- Afrigter - Claudia Miller (lewensredding)
- Plaaswerker - Michael Vaaltyn (perdry)
- Nuweling - Dotiano Ricardo Moretti (skermsport)
- Tegniese uitnemendheid - Janine Kotze (pluimbal)
- Sportfederasie - SWD atletiek
- Sportspan - Suidkaap mid-amateur interprovinsiale span (gholf)
- Inheemse spele - Jukskei
- Laerskool sportman - Ian de Jager (muurbal)
- Laerskool sportvrou - Jada Coetzee
- Hoërskool sportman - Antonio Farmer (atletiek)
- Hoërskool sportvrou - Jacquine Strydom (skopboks)
- Sportman (sport vir gestremdes) - Christopher Patton
- Sportvrou (sport vir gestremdes) - Alvine Volkwyn
- Junior sportvrou - Meike Strydom (atletiek)
- Junior sportman - Jean du Plessis (krieket)
- Sportvrou - Elma Davis (rolbal(
- Sportman - Jovan Rebula (gholf)
- Meestersportman - Johan Windt
- Vrywilliger - Joy Gouloose (lewensredding)
- Skoolspan - Oakdale (toutrek - 560kg)
- Ontwikkelingskoolspan - Franken Primêr (judo)
- Gemeenskapsbouer - Kalma Hayes (perdry)
- Lewenspresteerder - Joe Arendse (Atletiek)
- Sportjoernalis - Christo Vermaak
- Sportfotograaf - Deidre Cloete
- Ontspanningsliggaam - Phillip Seroux (Oudtshoorn Chrsitelike Jeugforum)
- Presidentstoekennings - Dave van der Walt, Freda Barnard, Corné Bence en Raymond Avontuur.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'